Warriors wen punte-skietgeveg teen Stormers

Sebastian Cancelliere het twee drieë teen die Stormers gedruk. Foto: Twitter.

ʼn Briljante steekskoppie en Sebastian Cancelliere se raakvat spoed in gietende reën het gesorg dat die Glasgow Warriors die Stormers met 24 – 17 op die Scotstoun-stadion kon klop.

Die telling was kort vóór die einde van die wedstryd nog 17 elk. Maar Cancelliere en Domingo Miotti – wat die stelskop oor die dwarslat gejaag het – het ander planne gehad en die tuisspan het nóg ʼn wedstryd gewen.

In John Dobson en Franco Smith het al twee spanne afrigters wat hou van lekker aanvallende rugby en die verdedigers moes omtrent vandag hul storie ken.

Angelo Davids verdien egter ʼn pluimpie vir sy puik verdedigingswerk in die 73ste minuut toe hy ʼn vlieënde Kyle Steyn platgetrek het.

Die besoekers het weliswaar ʼn bietjie meer gesukkel om aan die gang te kom en daar was nie veel van hul nou bekende seepgladde hanteerwerk te sien nie. Twee van hul drie drieë is deur voorspelers gedruk.

Snaaks genoeg is dit juis Joseph Dweba, Clayton Blommetjies en Junior Pokomela wat vir die Kapenaars se drieë verantwoordelik was. Al drie spelers het al vantevore onder Smith se bekwame toesig gespeel.

Manie Libbok het so  ʼn bietjie met sy skopradar gesukkel en hy was net in die kol met een van sy stelskoppogings.

Boonop het Leolin Zas ook die veld met ʼn besering verlaat. Die sintetiese oppervlakke van Europa is beslis iets om aan gewoond te raak.

Huw Jones (wat ʼn hele paar wedstryde vir die Stormers gespeel het) en Steyn (wat in Johannesburg gebore is) het die Skotte se ander drieë gedruk.

Die Stormers speel volgende Sondag teen London Irish in ʼn Kampioenebeker-wedstryd.

  • Puntemakers:

Glasgow Warriors: Drieë: Sebastian Cancelliere (2), Kyle Steyn en Huw Jones. Doelskoppe: George Horne en Domingo Miotti.

Stormers: Drieë: Joseph Dweba, Clayton Blommetjies en Junior Pokomela. Doelskop: Manie Libbok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Ons spanne gaan dieselfde probleem met Leinster in hierdie kompetisie he as wat die Crusaders was. Leinster gaan weer bo eindig op die punteleer (net soos die Crudsaders gewoonlik) en dan moet jy hulle in Ierland klop. Wat die Bulle verlede jaar kon regkry dink ek gaan raar wees dat dit weer gaan gebeur. Ons spanne gaan nie sommer die beker wen in ‘n eindstryd daar nie.

JohanR ·

Jammer maar jy kan nie een naweek speel dan dadelik drie vlugte moet vat oor 36 uur en dan speel ssos ons weet die Stormers kan. Die ouens het net tam gelyk. Onthou die SA spanne in die kompetisie is ook die enigstes wat Economy moet vlieg en nie First Class. Kan nou dink as die groot ses voet lank ouens in ‘n Economy sitplek moet sit en slaap vir 36uur. Stormers, Sharks en Leeus het verloor. Net die Bulle het die naweek ‘n wen gekry.

piet ·

Ek lees nou die dag ‘n voorstel wat baie sin maak. Qatar Airways is die amptelike lugredery vir die URC. Die ou maak toe die voorstel dat daar met Qatar Airlines onderhandel word vir een vliegtuig, wat wanneer dit nodig is, net vir die URC se oorsese, regstreekse vlugte gebruik word en wat 3 spanne op ‘n slag sal kan vervoer (of maak dit selfs 4 spanne wat dan gelyk reis). So ‘n vlug kan dan ook die groot lughawens vermy en eerder kleiner lughawens gebruik. Klink vir my na ‘n goeie idee.

JohanR ·

piet – het jy die Bulle, Leeus, Sharks en Stormers se skedule gesien vir hulle volgende 5 wedstryde? Dis om van te skrik. Ek dink die Stormers gaan 5 wedstryde speel, en net 3 wen met daai skedule.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.