Wat is die punt? vra Dupont

Frankryk se Antoine Dupont. Foto: Franck Fife/AFP.

Antoine Dupont het skynbaar ook nie veel ooghare vir die Suid-Afrikaanse spanne in die groot Europese kompetisies nie.

Die Bulls, Sharks en Stormers speel hierdie naweek in hul eerste Kampioenebeker-wedstryde, terwyl die Lions en Cheetahs deel van die Uitdaagbeker is.

“Vir die puriste is dit moeilik om te begryp. Ons hele generasie het met dié legendariese toernooi grootgeword. Nou het dit ʼn nuwe baadjie aangetrek – dit is nie meer ʼn Europese kompetisie nie,” het die kaptein van die Franse nasionale rugbyspan gesê.

Dupont speel vir Toulouse; ʼn gedugte span wat reeds vyf keer in sy roemryke geskiedenis die Kampioenebeker-silwerware omhoog gehou het.

“Ons moet dit steeds as ʼn Europese kompetisie benader en vir onsself sê dat ons teen nuwe spanne speel. Dit is egter iets wat nie maklik is om te verstaan nie.”

Tog kon die talentvolle skrumskakel vroeër nie wag om teen die Springbokke in Marseille te speel nie.

Cheslin Kolbe word deur Antoine Dupont aarde toe gebring. Die Franse kaptein is hierna met ¤n rooi kaart van die veld gestuur. Foto: Sylvian Thomas/AFP.

Hoewel die Fransmanne die toets met 30–26 gewen het, is Dupont met ʼn rooi kaart van die veld gestuur nadat sy luggeveg met Cheslin Kolbe skeefgeloop het.

Hy het later appèl teen die tugkomitee se beslissing aangeteken en sy aanvanklike skorsing is tot twee weke verminder.

Maar ondanks al die negatiewe kommentaar – dié van Stephen Jones en Morgan Parra inkluis – is Anthony Lepage opgewonde oor die Suid-Afrikaanse inval.

Die uitvoerende hoof van European Professional Club Rugby (EPCR) het gesê dat die insluiting van Suid-Afrikaanse spanne ʼn tree in die regte rigting is – veral met die oog daarop om dié topkompetisies onder ʼn internasionale gehoor te bemark.

“Die kompetisies kan nou nuwe hoogtes bereik met die beste spanne uit Suid-Afrika wat skouers met die beste uit Engeland en Frankryk skuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Laksman ·

So lawwe Franse mannetjie…….dis lankal nie meer n Europese kompetisies met al die SA spelers IN die Europese spanne nie

Manie ·

Korrek, as jy al die buitelandse spelers uit die spanne onttrek, is hulle maar bra mak.

Hennie Biebouw ·

Die herkoms van jou werknemers bepaal nie die identiteit van jou maatskappy nie.

Andrew ·

Vra ek ook as ek kyk hoe min europiers eintlik deesdae in die europese spanne speel en nie eens genoem die nationale spanne wat net sowel “common wealth” spanne kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.