Fransman mor ook oor SA spanne in Europa

Morgan Parra is skepties oor Suid-Afrikaanse spanne in Europa. Foto: Thierry Zoccolan/AFP.

Morgan Parra, die Franse skrumskakel met meer as 70 internasionale toetse agter sy naam, is ook maar bra skepties oor die deelname van Suid-Afrikaanse spanne in Europese rugbykompetisies.

“Ek gaan eerlik wees – dit gaan ’n wonderlike ervaring vir die spelers wees om teen Suid-Afrikaanse teenstanders te speel – maar kan ’n mens dan nog van die Kampioenebeker praat? Dit was voorheen ’n Europese kompetisie wat gelaai was met geskiedenis en tradisie; nou is ek nie meer so seker nie,” het die Stade Français-speler gesê.

Die Stormers, Bulls en Sharks sal binnekort hul Europese avontuur in die Kampioenebeker voortsit, terwyl die Lions en Cheetahs deel van die Uitdaagbeker sal wees.

“Ek het niks teen spanne uit die Suidelike Halfrond nie, maar ons speel nie meer in ’n Europese toernooi nie. Kom ons noem dit dan eerder iets anders want volgens my bestaan Kampioenebeker nie meer in sy suiwerste vorm nie. In my oë behoort Suid-Afrikaanse spanne nie in hierdie kompetisie te speel nie.”

Vroeër het Stuart Barnes – die voormalige Engeland-losskakel – in sy The Times-rubriek ook sy mond oor die onderwerp uitgespoel.

Die Stormers het die Bulls in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap geklop. Foto: GB Jordaan.

“Daar gaan nou drie Suid-Afrikaanse spanne in ’n toernooi speel wat veronderstel is om die beste span in Europa te bepaal,” het hy geskryf.

Volgens Barnes is “verwronge” dalk die beste woord om dié stand van sake te beskryf; so amper asof Kaizer Chiefs nou saam met Manchester United en Barcelona in aksie is.

“Die Europese Kampioenebeker is geskiedenis. Die krag van die Heineken-beker het in die vurige wedywering tussen klubs, provinsies en lande gelê. Dit is ’n geleentheid vir ondersteuners om hul spanne na ander lande te volg. Gaan dieselfde aantal toeskouers die tog van Limerick na Pretoria aanpak?”

Tog was Anthony Lepage, uitvoerende hoof van European Professional Club Rugby (EPCR), opgewonde oor die Suid-Afrikaners se insluiting.

“Die kompetisies kan nou nuwe hoogtes bereik met die beste spanne uit Suid-Afrika wat skouers met die beste uit Engeland en Frankryk skuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Michael ·

Hy is reg, ons hoort nie daar nie. Kry eerder die beste spelers in ons land om vir die Curriebeker mee te ding wat maar afgewater was die laaste jare. Daar kan dan ‘n kompetisie wees tussen die Curriebekerkampioene en die kampioene van die ander lande se interne kompetisies

George ·

Ek stem, laat almal hulle ligas jol, kry die wenners, suid amerika, noord amerika, nz/aus, afrika, europa, en die wenners speel almal teen mekaar.

wildtuin ·

Ek stem saam , die Curriebeker het erg afgewater geraak die afgelope klompie jare, laat hy weer sy vorige glorie herleef.

George ·

As hul die beste is, sal ons deelname nie saak maak nie…of hoe? Maar ek stem saam maar ook nie.

VaalDonkie ·

Die ou is seker reg. Maar terselfdertyd is die spanlede in hul eie spanne ook VROT van die Suid-Afrikaners so miskien is dit al lankal nie meer ‘n streekstoernooi nie.

George ·

Rugby en krieket gaan soos soccer raak, almal speel wereld wyd, net om bymekaar te kom vir World Cups en toetse.

Andrew ·

Let wel, n Europese kompetiese wie beste spanne maklik 5 na 15 suiderlike halfrond gebore spelers bevat.

Kan helfte van die tyd nie n fransman sien wat lyk soos Felipe Sella nie.

Kokkies ·

Dink ons sal maar dieselfde gevoel het as hulle in ons Currie Beker moes deelneem. Verander die naam en die Noordelike spanne wat bo aan die lys is vir Europese spanne, dan kan hulle maar vir die Europese Kampioenebeker uitspook. Semi en dan ‘n finaal.

N ·

Lyk my die manne is bang vir SA spanne na ons spanne oorheers het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.