WB-toernooi: Statistieke en ontleding

Siya Kolisi ontvang ‘n trofee na die Springbokke se oorwinning van 41-7 oor Japan op 6 September. Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Die Nieu-Seelandse webtuiste stuff.co.nz het ʼn baie interessante studie gedoen oor die topagt-spanne se vertonings sedert 2015 se Wêreldbekertoernooi tot ná vanjaar se WB-opwarmwedstryde.

Die All Blacks gee in die meeste gevalle die toon aan, hoewel Engeland, Ierland en Wallis in een of twee afdelings hul neuse voor die All Blacks gekry het, terwyl die Springbokke en die Wallabies in baie gevalle aan die agterspeen suig.

Daar is steeds ʼn wye kloof tussen die All Blacks en die Bokke, hoewel daar ʼn punteverskil van net een punt (107 teenoor 106) in die spanne se laaste vier toetswedstryde was.

Die Bokke het een daarvan gewen (36 – 34), een was gelykop (16 – 16) terwyl die All Blacks met net 32 – 30 en 25 – 24 geseëvier het.

Vandaar die nuwe optimisme in die Springbokkamp.

Die All Blacks het tussen 2014 en verlede week se kragmeting met Tonga 39 van hul 47 toetswedstryde gewen, ses verloor en twee keer gelykop gespeel vir ʼn wenpersentasie van 83%.

Hulle het ook die meeste drieë gedruk (5.34 per wedstryd), maar Engeland (83) het een minder drie as hulle afgestaan.

Die Bokke kon net 22 van hul 44 toetse gewen, het 19 keer verloor en drie keer gelykop gespeel vir ʼn wenpersentasie van slegs 50%.

Bygesê, dit was in die donkerste dae van Springbok‑rugby, met Allister Coetzee wat afrigter was en die Bokke byvoorbeeld met 57 – 0 deur die All Blacks in Albany afgeransel is.

* Ander nuus uit Japan is dat Wallis met balle oefen wat vol babaolie gesmeer is, in emmers water gedompel is en met kleeflint toegeplak is om die hitte en hoë humiditeit (wat die balle seepglad maak) te bowe te probeer kom.

* Dan laat die Engelse afrigter, Eddie Jones, sy hakers bokshandskoene aantrek om die bal in lynstaanoefeninge in te gooi. Die Engelse losskakel Owen Farrell, het volgens die hulpafrigter, John Mitchell, glo ook sy verdedigingstegniek aangepas om toe te sien dat hy nie met geelkaarte vir hoë en gevaarlike duikslae gestraf word nie.

* Die Skotte het hul spelers se eetplanne met ryskoekies en biltong aangevul en dan hou die Bokke se ondersteuningspan die spelers se gewig baie fyn dop nadat Jesse Kriel verlede week in ʼn oefening vier kilogram verloor het en Duane Vermeulen in die naweek se oefening drie kilogram in die hitte afgeskud het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

ja nee ·

Beste MM

Ek weet daar is altyd maar baie foute wat inslyp maar kan julle asseblief darem net die wêreldbekerjaar verander van 2014 na 2015.

Anja van der Merwe ·

Dagsê ja nee

Dankie vir jou boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

LOL ·

4kg en 3kg verloor in een oefen-sessie en hul leef nog??? Seker sonder stewels geweeg na die sessie.

Poot ·

@LOL
‘n F1 bestuurder verloor tussen 4 tot 5kg in ‘n wedren. Wat is so snaaks daaraan. Hulle noem dit dehidrasie ter inligting.

LOL ·

@Poot; korrek F1 bestuurders verloor 4/5kg massa/ gewig weens dehidrasie. Maar om vir tot +- 3 ure met brandbeskermde drag intens te konsentreer, min of geen rehidrasie om addisionele massa te beperk en in jou eie uniform urineer indien nodig; kan nie vergelyk word met ‘n buitemuurse oefening waar water/rehidrasie vrylik beskikbaar is en dieetkundiges/dokters/fiksheidspersoneel beskikbaar is. Indien dit wel die geval is, is dit vergelykbaar met ‘n marathon en dus onverantwoordelik om ‘n week voor ‘n wereldbeker so intens te oefen want op hierdie stadium moes hulle klaar fiks wees en die moontlikheid vir hitte-uitputting groot en die kans op herstel binne ‘n week is min.

Nico K ·

As ‘n speler gewig verloor weens dihidrasie dan is dit iets waarna gekyk moet word. Al gebeur dit algemeen, Poot. Met dehidrasie verloor mens ook minerale, ens. Dit bly ‘n belangrike aspek van sportwetenskap en iets wat nie so algemeen in rugby voorkom nie.

Judge Dredd ·

Die enigste statistiek wat saakmaak is die een wat na 80 minute op die telbord is.

LOL ·

@Judge Dredd- Stem saam, al die ander statistiek kan vir nabetragting gebruik word.

Swartwolf ·

Springbok rugby se wen persentasie het geweldig afgeneem, vanaf mid 60% tussen 1891 en 2007 tot 50% tussen 2015 en 2019 terwyl ‘n paar ander lande merkbaar verbeter het. Wonder wat die oorsake kon wees van die bokke se totale agteruitgang?

Werner ·

Nadat die Akedemie-span n paar jaar gelede die SA-Skolespan geklop het, het ek besef ons beste spelers word nie gekies nie.

muis ·

Shoe maar hier is n klomp wyse manne wat kommentaar lewer. Het julle dalk jul beroepe gemis dokters. Moenie altyd so negatief oor alles wees nie mense.

Swartwolf ·

Dankie vir jou wyshede oor rugby muis, nou terug na jou kaas asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.