Wêreldbeker: Rose het glo Ackermann in visier

Gloucester se Ruan Ackermann. (Foto: Simon King/ProSportImages/DPPI via AFP)

Luidens berigte kan Ruan Ackermann dalk die onbekende faktor wees wat vir Engeland bykomende woema by die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk gee.

Die Suid-Afrikaans gebore rugbyster is die seun van die voormalige Springbokslot en Leeus-afrigter Johan Ackermann.

Die 27-jarige losvoorspeler het destyds in die kleure van die Lions in die Superrugby-toernooi amok gemaak, maar draf sedert 2017 vir Gloucester uit en hy kwalifiseer om vir Engeland te speel.

Hoewel daar aanvanklik gevrees is dat hy geruime tyd op die krukkelys sal wees – nadat hy sy knie teen La Rochelle seergemaak het – is daar nou ʼn moontlikheid dat hy in Steve Borthwick [Rose-afrigter] se visier is.

“Daar word oor sy moontlike Engeland-insluiting gepraat en sy spelpeil en harde werk is die rede vir die gesprek,” het George Skivington, Gloucester-baas, in ʼn onderhoud met RugbyPass gesê.

“Ruan sal egter ʼn operasie moet ondergaan, maar sy besering is nie so erg as wat aanvanklik gevrees is nie. Die speler wat sy kniebesering veroorsaak het, weeg 150 kg [La Rochelle se Georges-Henri Colombe] en ek dink dat die meeste van ons in só ʼn situasie tweede sou gekom het,” het Skivington gesê.

Hoewel Ackermann nie weer hierdie seisoen vir Gloucester sal speel nie, hou die klub duim vas dat hy gou weer op alle suiers sal vuur.

“Ruan is ʼn taai kalant, maar hy is platgeslaan oor die besering. Hy is baie naby aan ʼn plek in die Engeland-groep.”

Colombe is intussen vir vier weke geskors nadat ʼn tugkomitee bevind het dat hy hom aan roekelose spel skuldig gemaak het.

Ackermann was in die Lions se opdrafspan in die eindstryd van die 2017-Superrugbytoernooi teen die Crusaders op Ellispark.

Hoewel die Johannesburgers die kragmeting met 25 – 17 verloor het, het hulle net in een van hul 15 groepwedstryde in aanloop tot die eindstryd vasgeval.

Lions teen Crusaders (2017-Superrugbyeindstryd): Andries Coetzee (heelagter), Ruan Combrinck (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Courtnall Skosan (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Ross Cronjé (skrumskakel), Ruan Ackermann (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Jaco Kriel (flank), Franco Mostert (slot), Andries Ferreira (slot), Ruan Dreyer (stut), Malcolm Marx (haker) en Jacques van Rooyen (stut).

Spelers soos Cyle Brink, Faf de Klerk en Rohan Janse van Rensburg was op die plaasvervangersbank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.