White se span in witpoeier-dwelmskok

Steven Yates. Foto: Rugby News Japan se Facebookblad.

’n Dwelmbom het in Japanse rugby gebars nadat twee spelers van Toyota Verblitz in dié land se Top-liga vir die besit van kokaïen in hegtenis geneem is. Die klub word deur die voormalige Springbok-afrigter, Jake White, afgerig.

Volgens die Japan Times is die klub se 28-jarige losskakel, Rayota Kabashima, gearresteer nadat polisiebeamptes een gram kokaïen in sy beursie gevind het, wat hy glo in ’n taxi agtergelaat het.

Hy het sy beursie in die motor vergeet en die bestuurder het dit by die plaaslike polisiestasie ingehandig. Kabashima is deur middel van sy bestuurslisensie geïdentifiseer.

Volgens die polisie het Kabashima skuld ontken omdat hy glo nie kan onthou hoe die dwelms in sy beursie beland het nie.

Dan is die voormalige Nieu-Seelandse sewesster, die 35-jarige Steven Yates, ’n week of wat gelede in sy huis in hegtenis geneem toe dieselfde dwelmmiddel in sy besit gevind is.

Yates, wat in 2015 ’n Japanse burger geword het, het intussen skuld erken.

Die klub het in ’n verklaring om verskoning gevra vir die spelers se gedrag.

“Ons vra opreg om verskoning vir die inhegtenisneming van ons spanlede. Ons berou ook die feit dat die klub probleme versoorsaak het in ’n jaar waarin Japan die Wêreldbeker-rugbytoernooi aanbied,” lui die verklaring.

Die klub het ’n groot groep Suid-Afrikaners in sy geledere. Buiten White is Gert Smal (assistent-afrigter), Gio Aplon, Jason Jenkins, Reniel Hugo, Lionel Cronje, Clinton Swart en Carl Wegner almal in die Verblitz-kleure te siene.

Buiten dié groep sou die Springbokheelagter, Willie le Roux, ook na die afloop van die Wêreldbeker by die span aangesluit het. Die All Black-kaptein en Crusaders-superster, Kieran Read, sou dieselfde paadjie as Le Roux gestap het.

Die span se eienaars, die Toyota Motor Maatskappy, het die klub se werksaamhede sedert Kabashima se inhegtenisneming gestaak, terwyl hulle ook voorlopig aan verdere Topliga-wedstryde onttrek is.

Dwelmbesit en -gebruik is ’n ernstige oortreding in Japan. Die Kanto Gakuin-universtiteit het sy span aan die All Japan Championships van 2007/2008 onttrek toe twee van sy spelers inhegtenis geneem is omdat hulle dagga gekweek het. Tien van die span se spelers het ook destyds erken dat hulle dagga gebruik het.

Die Japan Times berig nou dat Japan se rugbyvoetbalunie versoek het dat alle klubs in die Top-liga met hul spelers moet praat om meer inligting in te win.

Toyota Verbllitz het ook in hul verklaring gesê dat hy sy volle samewerking in die ondersoek sal gee.

  • Die klub het verlede jaar vierde in die Top-liga geëndig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.