White soek Bulls op hul beste teen Stormers

Jake White. Foto: Twitter)

Die Bulls se Jake White weet dat die Stormers ʼn baie goeie rugbyspan is – die jongste uitslae van die twee spanne onderstreep ook dié feit.

Die Kapenaars verloor deesdae nie sommer ʼn wedstryd wanneer hulle teen die manne in ligblou speel nie en hulle beskik oor die nodige wenmomentum.

Selfs op Fort Loftus.

Volgens White is hy egter tevrede met die vordering wat sy span getoon het.

“Ons word wel beter. Ek is baie meer tevrede met waar ons in die derde jaar van die toernooi is as waar ons in die eerste jaar was. Ons sal egter op ons heel beste teen die Stormers moet wees,” het die Pretorianers se direkteur van rugby gesê.

Die Bulls is hierdie seisoen op hul aanvallende beste en hulle het reeds 349 punte in die Verenigde Rugbykampioenskap aangeteken.

“Tog het ons nog nooit werklik ons beste rugby teen die Stormers gespeel nie; grotendeels omdat hulle ons nie toelaat om dit te doen nie. Wat verdediging betref is hulle baie goed en ons sal ʼn manier moet vind om hul sterk punte te troef.”

White het die Bulls se vertonings teen Saracens, Bordeaux en Leinster uitgesonder om te wys waartoe sy spelers in staat is.

Die boodskap aan die span is eintlik heel eenvoudig: Speel soos wat jy kan.

Kaartjies vlieg vir die wedstryd

Volgens Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugbyunie, was daar Donderdagoggend nog net 3 960 kaartjies beskikbaar vir die tweestryd.

Die kragmeting begin Saterdag om 17:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Van die vorige uitslae tussen die Bulls en die Stormers:

23 Desember 2023: Stormers 26 – 20 Bulls

6 Mei 2023: Stormers 33 – 21 Bulls

18 Februarie 2023: Stormers 23 – 19 Bulls

23 Desember 2022: Stormers 37 – 27 Bulls

18 Junie 2022: Stormers 18 – 13 Bulls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.