White voorspel taai stryd teen Sharks

Arno Botha is in die beseerde Cyle Brink se plek. Foto: GB Jordaan.

“Maak die Bulle almal Bokke,” is die gewilde Steve Hofmeyr-treffer wat gereeld in Pretoria gehoor word.

En vir die meeste Bulls-ondersteuners steek daar beslis ’n tikkie waarheid in die lirieke: Die vertoonkas op Loftus Versfeld bars immers uit sy nate met al die trofees, onder andere die Superrugby Unlocked en die Curriebeker. Ná ’n wankelrige begin tot die toernooi het Marcell Coetzee se span ongetwyfeld hul voete in die Verenigde Rugbykampioenskapreeks gevind.

Soveel so dat Nick Mallett in een van sy koerantrubrieke geskryf het dat die Bulls die beste kans (onder plaaslike spanne) staan om die vlieënde Leinster in sy spore te stuit.

Arno Botha vervang die beseerde Cyle Brink vir môre se kwarteindstryd teen die Sharks op Loftus Versfeld, terwyl ervare spelers soos Lizo Gqoboka, Embrose Papier en Morné Steyn op die plaasvervangersbank ingesluit is.

Morné Steyn. Foto: GB Jordaan.

Indien dit ’n naelbytstryd is, kan die Sharks dit nie bekostig om laat in die wedstryd ’n strafskop af te staan nie; in Steyn het die Bulls ’n speler wat koelkop ’n belangrike stelskop oor die dwarslat kan jaag.

Tog sal die Sharks dinge nie maklik vir die tuisspan maak nie.

“Die feit dat ons twee keer teen hulle in die groepfase-wedstryde verloor het, wys dat hulle ’n topspan is en ons verwag ’n taai stryd,” het Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, gesê.

Volgens die voormalige Springbok-afrigter maak die diepte van die Durbaniete se span veral van hulle gevaarlike teenstanders.

“Ons het egter ons voorbereidingswerk vir die wedstryd goed gedoen. Nou moet ons net die planne implementeer en na die beste van ons vermoë speel.”

Die wedstryd begin môre om 13:45 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Canan Moodie (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan-Hendrik Wessels, Lizo Gqoboka, Robert Hunt, Janko Swanepoel, Reinhardt Ludwig, Embrose Papier, Morné Steyn en Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.