Willie gereed vir Bulls-buiging

Willie le Roux maak vandag sy Bulls-buiging teen Connacht. (Foto: X/Wille le Roux)

Willie le Roux maak later vandag sy Bulls-buiging wanneer die Pretorianers teen Connacht op Loftus Versfeld uitdraf.

Die 34-jarige Wêreldbeker-wenner sal die nommervyftientrui dra en hy vorm die agterste driehoek saam met Sebastian de Klerk en Sergeal Petersen.

Volgens die opportunistiese Le Roux gaan hy nie bang wees om dinge op die Loftus-speelveld te probeer doen nie.

“Ek is nie ʼn speler wat in my dop gaan kruip bloot omdat ek bang is oor wat mense ná ʼn wedstryd gaan sê nie. Ek het ʼn kontrak met die Bulls onderteken, ek geniet hul ondersteuning en ek gaan probeer om my stempel hier af te druk,” het Le Roux gesê.

“As ek ʼn geleentheid op die veld sien, gaan ek dit met al twee hande aangryp. As dit uitwerk, gaan almal waarskynlik mal wees oor my en sê die Bulls het uitstekende werk gedoen. Maar as dinge nie volgens plan verloop nie, gaan hulle waarskynlik mor dat ek te oud is.”

Sy nuwe spanmaats vertel dat Le Roux die pas op die oefenveld in aanloop tot die Connacht-wedstryd aangegee het.

“Ek is hier om my werk na die beste van my vermoë te doen. Hopelik kan ek mense trots maak met my spel.”

Die wedstryd begin om 17:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Willie le Roux (heelagter), Sebastian de Klerk (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Sergeal Petersen (linkervleuel), Jaco van der Walt (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Nizaam Carr (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Reinhardt Ludwig, Wilco Louw, Akker van der Merwe en Gerhard Steenekamp. Plaasvervangers: Jan Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Janko Swanepoel, Cyle Brink, Embrose Papier, Chris Smith en Canan Moodie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.