Willie (was) groot in Japan

Willie le Roux. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Dit lyk of Willie le Roux se tyd in Japan binnekort iets van die verlede kan wees.

Die ervare Springbok-heelagter het op Twitter sy Toyota Verblitz-spanmaats en die klub se ondersteuners vir ʼn “ongelooflike” vier jaar bedank.

“Ek waardeer die geleentheid wat ek gehad het om so ʼn wonderlike klub te verteenwoordig, arigato,” het Le Roux getwiet.

Die 33-jarige agterspeler, wat in 2019 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke in Japan omhoog gehou het, het in dieselfde jaar deel van die Verblitz-opset geword nadat hy vir ʼn paar seisoene vir Wasps in Engeland uitgedraf het.

Hoewel hy niks van sy toekomsplanne verklap het nie, word daar in riemtelegramme bespiegel dat die Stormers dalk in die ry staan om sy handtekening te bekom.

Le Roux is in Stellenbosch gebore en hy het sy skoolloopbaan aan Paul Roos Gimnasium voltooi.

Terselfdertyd het Jake White ook al vantevore gesê dat die Bulls meer Springbok-spelers in sy geledere soek as die Pretoria-franchise suksesvol in Europa wil wees.

Hy het sy stempel in die Springbokke se jaareindtoer na Europa afgedruk toe hy saam met spelers soos Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse sommer so vanuit hul eie halfgebied met die bal gehardloop het.

Le Roux het sy internasionale buiging in 2013 teen Italië in Durban gemaak en hy het die Springbokke reeds in 83 toetse verteenwoordig waarin hy 13 drieë gedruk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Hoop maar hy geniet sy oudag met koffie op die stoep. Dan kan hy , Frans Steyn en Bischmark oor die goeie ou tye gesels. Ek hoop van harte nie hy is van voorneme om nog vir n SA span te speel nie. Hul ontneem jong opkomende spelers van geleenthede

Leon ·

Dankie. Stem 100 % saam. Wens net sekere ander “oud” spelers besef dit ook. Hul tans soos n 3de wiel aan die by ander spanne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.