SA se rugbyhuursoldaat laat Fransmanne biltong koop

Pellow van der Westhuizen will binnekort ’n Franse burger word. Foto: verskaf.

Marthinus Riaan Stefanus van der Westhuizen mag dalk meer soos ’n kenner in ’n episode van Megaboere klink, maar “Pellow”, soos hy onder vriende en spanmaats bekendstaan, is een van Frankryk se beter professionele rugbyspelers.

As jong speler het hy onder Suid-Afrika se blinkste sterre getel: hy het vir twee agtereenvolgende jare die SA Akademiespan gehaal en was na skool in aksie vir die land se o.19- en o.21-spanne by die Wêreldkampioenskap, en later vir die SA Barbarians.

Maar in 2012 het hy sy tasse vir Frankryk gepak en sedertdien roep dié amper 35-jarige haker sy lynstaanwagwoorde in Frans uit. Hy was al in aksie in die ProD2-liga vir Colomiers, sowel as die premier Top 14-liga vir ASM Clermont Ferrand.

Deesdae is hy in die kleure van USM Montauban en is tot Junie 2020 by die klub gekontrakteer.

“My loopbaan staan weliswaar einde se kant toe, maar bygesê ek voel nog baie goed en kyk mooi na my lyf en fiksheidsvlakke. Ek wil poog om my kontrak vir ’n verdere twee jaar te verleng, waarna ek steeds graag aktief by die sport betrokke wil wees, maar as ’n amateurspeler.”

Sy kraglopies het Suid-Afrikaners en Franse beïndruk. Foto: verskaf.

Deur die jare het spanne van die Noordelike Halfrond hul Suidelike teenstanders stelselmatig ingehaal – kyk net na Ierland se pragsege oor Nieu-Seeland verlede jaar. Van der Westhuizen glo dat die Noorde se ondersteuningsbasis die rede kan wees vir hul sukses.

“Jou lewensgehalte, sekuriteit en jou salaris is tops hier. Dan word die rugby ook uitstekend ondersteun – die stadions is elke naweek vol gepak, ten spyte van sneeu, reën of slegte vertonings. Dit is lekker om te weet dat jou ondersteuners altyd daar is vir jou.”

Buiten die feit dat die Noordelike Halfrond spelers en afrigters van die Suide met goeie kontrakte lok, is hy ook van mening dat die afrigterskorps die spelers toelaat om met meer vryheid te speel. Basies word ’n speler genoeg vertrou.

“Die afrigters hier berei jou voor vir ’n wedstryd, maar hulle is nie self op die veld wanneer ons speel nie.”

En dit, om vir Ferdi in KykNet se Hotel aan te haal, maak ’n kamp lekker.

Deur die jare het hy al vir ’n paar goeie afrigters gespeel, maar hy sonder ses uit wat veral ’n impak op sy loopbaan gemaak het. Breiers soos Hendrik Swanepoel en Sakkie Meyer op skool, Jacques Swanepoel, Chaka Willemse en Stonehouse in die Curriebeker, terwyl Clermont se Jono Gibbs ook ’n belangrike rol gespeel het.

“Ek het by elkeen van hulle iets geleer en ek is juis vandag die speler en persoon wie ek is omdat hulle in my geglo het.”

Hoewel hy Meimaand wil aansoek doen vir permanente Franse burgerskap, is hy steeds lojaal aan sy geboorteland.

Die Noordelike Halfrond kyk goed na hul spelers en hul gesinne. Foto: verskaf.

“Die Fransmanne koop al by my biltong en droëwors wanneer ek dit maak,” skerts hy.

“Dan dink hulle ons Suid-Afrikaanse manne is mal. Want maak nie saak of dit sneeu nie, bráái gaan ons bráái!”

As sy fiksheid dit toelaat, sal hy waarskynlik aanhou speel tot hy 40 is.

“Ek wil eendag onthou word as iemand wat hard gewerk het om dinge in die lewe te bereik en as ’n speler wat sy hart uitspeel vir sy span. Ek wil hê mense moet aan die woorde ‘selfdissipline’, ‘durf’ en die ‘lewe’ van die span dink wanneer hulle oor my speeldae praat.”

O ja, hy sal vir die Springbokke skree tydens die Wêreldbeker later vanjaar. Maar hy dink ook die Iere, Engelse en Nieu-Seelanders staan ’n goeie kans om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wilhelm ·

Is so jammer dat talent van die gehalte hul toekoms in die buiteland moes gaan soek agv swart politieke inmenging in ons sport.Ons kon nog tops gebly het daarsonder maar kyk waar lê ons nou,opgefoeter deur Japan,italië,Argentyne en al die lieplappers.Gelukkig is Jukskei darem nog veilig buite kwota gedagtes.Sal maar aanhou dit ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.