Selfs WWE-rofstoeiers bring ’n tikkie sporthoop in dié tyd

Foto: @WWE/Twitter

As sewejarige het ek destyds by my tjommie oornag om WWF – soos wat dit destyds bekendgestaan het – se WrestleMania-sepie in die middernagtelike ure te volg.

Daar was immers M-Net in sy huis en sy ouers was baie meer liberaal as myne. In ons huis was rofstoei verbode omdat Ma gesê het die vroue dra te min klere en ’n mens moet ligloop vir sulke meisies.

Haar buig-die-boompie-terwyl-hy-nog-jonk-is-raad het toe inderdaad handig te pas gekom: Chyna – een van die vrouestoeiers wat ons destyds so grootoog bewonder het – het later in ’n paar grootmens-flieks gespeel; daardie soort wat laataand op e.tv vertoon is. Maar dit daar gelaat.

Soos wat ons ouer geword het, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat rofstoei oor meer drama as Binnelanders se temalied beskik, terwyl die karakters mekaar nie eens hard slaan nie.

My finale Kersvader-bestaan-nie-oomblik was toe ek as gemeenskapsjoernalis die Suid-Afrikaanse rofstoeiers op die Kees Taljaard-stadion in Middelburg moes gaan afneem het. ’n Mens kon duidelik hoor hoe hulle vir mekaar sê wat volgende gaan gebeur.

Met ’n laaste en teleurstellende “skop my in die maag en ek sal van die pyn op die vloer rondrol” wat in my ore weergalm, het ek eerder vir Robbie Klay, of iemand soortgelyk, op die ander verhoog gaan afneem.

Druk die versnelknoppie nou na April 2020 en weens die Covid-19-pandemie is daar géén sport meer om regstreeks te volg nie.

Om hierdie teleurstelling in perspektief te plaas: Onthou jy hoe jy gevoel het toe Johann Stemmet aangekondig het dat hy nie meer Noot vir Noot se aanbieder gaan wees nie? Vermenigvuldig daardie gevoel met 1 000 om die sportlose pyn van ’n sportjoernalis te begryp.

Nadat jy tot vervelens toe gekyk het hoe AB de Villiers die arme Wes-Indiërs op Catch Up aan’t flarde geslaan het, was die nuus dat daar darem ’n bietjie “nuwe” WWE op die kassie gaan wees soos die spreekwoordelike oase in die spreekwoordelike woestyn.

Oudergewoonte sou die WrestleMania-skouspel weer in die middernagtelike ure in Suid-Afrika vertoon word, maar weens die pandemie is daar vir die eerste keer in die program se geskiedenis geen toeskouers toegelaat nie.

Die blik pre-workout – ’n oorblyfsel van die dae toe ons nog die gimnasium kon besoek het – is nadergetrek om in die geveg teen Klaas Vakie te help en die doepa is stiptelik ’n halfuur vóór die aksie sou begin, gedrink.

Maar ’n WrestleMania-program se intro is dikwels langer as die daaropvolgende aksie en toe Alexa Bliss en nog iemand uiteindelik die Kabuki Warriors aangevat het, het selfs drie scoops van die gimnasium-medisyne nie eens meer gehelp nie.

My oë het egter so dan en wan oopgeflikker en te danke aan my skielike vertroudheid met die kykNET-produksie Hoor my, sien my, soen my (kennis wat danksy my vrou opgedoen is), het ek tot die bedremmelde gevolgtrekking gekom dat ons eie Pascal Pienaar waarskynlik die bebaarde Elias sou gekies het as die lyfkamera op sy bors was. Hy lyk immers soos “ ’n man”.

Toe ek vanoggend net vóór ons aanlyn kerksessie op die sitkamerbank wakker geskrik het, het ek vinnig die hoogtepunte op YouTube gekyk.

Ja, hulle verdien steeds ’n Oscar vir hul toneelspelvernuf en van sosiale distansiëring het hulle nog nooit gehoor nie, maar die WWE-rofstoeiers het inderdaad ’n bietjie sporthoop in hierdie moeilike tye gelewer.

En daarvoor kan ’n mens net dankbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk N ·

Sekerlik die enigste “Sport” wat “live” uit gesaai is tydens algehele insluiting… alle ander sport is gekanselleer of uit gestel. DANKIE WWE…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.