Vandag se sportnuus

Siya Kolisi, kaptein van die Springbokspan.

Rugby

* Dis terugbetaaltyd vir die Springbokke wat Vrydag om 12:15 (Suid-Afrikaanse tyd) in Koemagaja teen Japan in ʼn Wêreldbeker-opwarmwedstryd speel.

* Die Bokke sal een van die swartste dae in die annale van Springbokrugby op die rak wil plaas en sal wraak wil neem vir die swart dag op  19 September 2015 in Brighton, Engeland, toe die onbesonge Japan die Bokke met 34-32 in die vorige WB-toernooi geklop het.

* Agt Springbokke, Jesse Kriel, Handré Pollard, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Francois Louw, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane en Eben Etzebeth, sal vir een van die grootse blapse in wêreldrugbyrugby wil vergoed, terwyl ses Japanse spelers, Michael Leitch, Luke Thompson, Yu Tamura, Kotaro Matsushima, Amanaki Mafi en Keita Inagaki, weer die Bokke pak.

* Vir die rekord, Japan is die enigste span wat nog nooit teen die Bokke verloor het nie, hoewel hulle nog net een keer teen mekaar gespeel het.

Die spanne is:

Japan: 15 William Tupou, 14 Kotaro Matsushima, 13 Timothy Lafaele, 12 Ryoto Nakamura, 11 Kenki Fukuoka, 10 Yu Tamura, 9 Kaito Shigeno, 8 Amanaki Mafi, 7 Lappies Labuschagne, 6 Michael Leitch (k), 5 Uwe Helu, 4 Luke Thompson, 3 Koo Ji-won, 2 Atsushi Sakate, 1 Keita Inagaki. Plaasvervangers: 16 Takuya Kitade, 17 Isileli Nakajima, 18 Asaeli Ai Valu, 19 James Moore, 20 Yoshitaka Tokunaga, 21 Yutaka Nagare, 22 Rikiya Matsuda, 23 Ataata Moeakiola. 

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cheslin Kolbe, 13 Lukhanyo Am, 12 Damian de Allende, 11 Makazole Mapimpi, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (k), 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Plaasvervangers: 16 Bongi Mbonambi, 17 Tendai Mtawarira, 18 Trevor Nyakane, 19 RG Snyman, 20 Francois Louw, 21 Herschel Jantjies, 22 Frans Steyn, 23 Jesse Kriel.

Serena Williams in aksie teen Elina Svitolina van Oekraïne tydens die halfeindronde van die Amerikaanse Ope in New York (5 September 2019). (Foto: Adam Hunger/AP)

Tennis

* Die 37-jarige Amerikaner Serena Williams is op koers na haar 24ste Grand Slam-titel nadat sy Elina Svitolina van Oekraïne met 6-3, 6-1 in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope in New York oorrompel het.

* Williams, wat agtste gekeur is, mik na haar eerste Grand Slam-titel sedert 2017 toe sy geboorte geskenk het aan haar eersteling.

* Die wedstryd het net 70 minute geduur en Williams het 33 wenhoue geslaan.

* Sy kom in Saterdag se eindstryd teen die Kanadese tiener Bianca Andreescu te staan wat die Switser Belinda Bencic met 7-6 (7-5), 7-5  in die ander halfeindstryd geklop het.

Die Aussies se gewese kaptein Steve Smith was die Engelse se groot pretbederwer toe hy ʼn skitterende 211 aangeteken het op dag twee van die vierde toets in die reeks om die As. (Foto: Rui Vieira/AP)

Krieket

* Die Engelse krieketspan is in tamatiestraat wanneer hulle Vrydag op Old Trafford in Manchester hul eerste beurt op 23/1 op die derde dag van die vierde toets in die reeks om die As hervat. Die Engelse is nog 474 lopies agter nadat die Aussies hul eerste beurt op 497/8 gesluit verklaar het. Die Engelse, wat reeds met 0-1 in die reeks agter is, sal dus verbete moet kolf om nie nou al die As op ʼn Aussie-skinkbord weg te gee nie.

* Die Aussies se gewese kaptein Steve Smith was die Engelse se groot pretbederwer toe hy ʼn skitterende 211 aangeteken het. Dit was Smith, wat die derde toets weens harsingskudding misgeloop het, se derde honderdtal in die reeks en hy spog reeds 589 lopies teen ʼn gemiddeld van 147.2. Hy het reeds 26 honderdtalle in 67 toetse aangeteken en dit was 11de in die reeks om die As.

Maar dit kon so maklik anders verloop het as hy nie op 68 deur Jofra Archer laat val is nie en met nie sy telling op 111 deur die linkerhandse draaier Jack Leach met ʼn onvergeeflike foutbal geklop is en deur Ben Stokes in die glippe gevang is nie, maar toe kon voortkolf.

* Boonop is die Aussies se kaptein, Tim Paine, twee keer in sy kolfbeurt van 58 laat val en kon Ben Stokes vanweë ʼn seer skouer net 10.5 boulbeurte afstuur.

Bafana Bafana se nuwe afrigter, Molefi Ntseki. (Foto: safa.net via ANA)

Sokker

* Suid-Afrikaanse sokker sit met die hande in die hare nadat Madagaskar ook nie kans gesien het om in ʼn vriendskaplike wedstryd teen Bafana Bafana Saterdag in die Orlando-stadion te speel nie. Dit het gevolg nadat Zambië ook vroeër sy rug om Suid-Afrika gedraai het oor die xenofobiese aanvalle op sy landgenote.

* Dit sou Molefi Ntseki se eerste proesel as afrigter gewees het nadat hy die leisels by Stuart Baxter geneem het. Die SA sokkerbase het spelers nou terug na hul klubs gestuur omdat ʼn geskikte teenstander nie betyds gevind kon word nie. Die SA sokkerbase het darem ʼn verklaring uitgereik waarin hy xenofobie veroordeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martin ·

Die Engelse is nie agter met 1- 0 nie. Dit staan tans op 1- 1.

kolla ·

Kaptein Kolisi moet asseblief net die boere hierdie keer bymekaar hou sodat hulle nie weer van die ossewa afval soos laas nie.

Buffel ·

Dink eerder Duane sal die bymekaarhouwerk doen en Pollard die dinkwerk want nie vir een van die twee take is kwota opgewasse nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.