Vandag se sportnuus

Faf de Klerk en Damian de Allende vier fees in hul wedstryd teen Japan. Die Bokke het die kwarteindstryd 26-3 gewen. Foto: ANA.

Tennis:

  • Die Britse tennisspeler, Andy Murray, het sy eerste titel sedert sy heupoperasie vroeër vanjaar gewen, toe hy vir Stan Wawrinka in Antwerpen geklop het.

Die telling was 3-6, 6-4 en 6-4 in Murray se guns. Dit was ook sy eerste ATP-titel in twee jaar.

Rugby:

  • Die Springbokke se lynstaanwerk het gister seepglad teen Japan in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi verloop.

Buiten die paar Japannese lynstaanballe wat Pieter-Steph du Toit en kie gegaps het, is die Bokke se lynstaanrekord iets om op trots te wees.

Die Suid-Afrikaners het nog nie ’n lynstaanbal in vanjaar se toernooi afgestaan nie en die Bokke se lynstaanspringers het 57 keer die bal raakgevang.

Suid-Afrika het vyf van sy sewe kwarteindwedstryde in Wêreldbeker-toernooie gewen; net die All Blacks spog met ’n beter wenrekord in die uitklopfase van ʼn Wêreldbeker-toernooi.

Beast Mtawarira is die derde Suid-Afrikaner wat ’n geel kaart in die uitkloprondes van die Wêreldbeker-toernooi gekry het. Die ander spelers is Bryan Habana (2015 teen Nieu-Seeland) en Juan Smith (2007 teen Argentinië).

  • Die Bokke speel Sondag om 11:00 teen Wallis in die halfeindstryd van die 2019-kampioenskap.

Krieket:

  • Die Protea-krieketspan is weer eens met sy rug teen die muur in die derde toets teen Indië.

Die Indiërs het hul eerste beurt op 497/9 verklaar, danksy ’n pragbeurt van 212 deur Rohit Sharma.

Dean Elgar en Quinton de Kock – wat die beurt in die plek van die beseerde Aiden Markram geopen het – is vroeg deur die Indiese snelboulers uitgeknikker en die Protea-kolflys het weer eens gewankel met die telling op 9/2.

  • Teen etenstyd op die derde dag het die Suid-Afrikaners 129/6 op die telbord gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietsnot ·

Statistiek, statistiek. Frankryk het n trotse rekord in Wereldbeker-toernooi e, en waar is hulle nou?

JosiF ·

Tyd dat Faf Du Plessis gesack word as “kaptein” en die keurders, hoe is dit moontlik dat “spesialis batsmen” De Bruyn nog daar is, Bavuma ook. De Bruyn na 11 toetse n avg van 18. Pathetic. Bavuma 31. Albei 1 honderdtal. Faf wat homself laat bat waar hy wil. Leer bietjie by Kohli. en dan is daar nog Markram…ai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.