Vandag se sportnuus

Foto: (AP Photo/Manu Fernandez)

Tennis:

  • Twee Spanjaarde, Rafael Nadal en Roberto Bautista Agut, het vir Kanada met 2 – 0 in die Davisbeker-finaal geklop om sodoende dié Europese land se sesde titel in te palm.

Bautista Agut, wie se pa Donderdag oorlede is, het in die eerste wedstryd met Félix Auger-Aliassime afgereken. Die eindtelling was 7 – 6 en 6 – 3.

Daarna het Nadal in ’n aksiebelaaide stryd met Denis Shapovalov klaargespeel. Hoewel die Kanadees moedig baklei het, was die telling 6 – 3 en 7 – 6 in Nadal se guns en dit was glad nie nodig om die dubbelspelwedstryde te speel nie.

Dit was Kanada se eerste proesel van ’n Davisbeker-eindstryd, terwyl dit die sesde keer is dat Spanje met die louere wegstap. Hulle steek ook die wentjek van $2,1 miljoen in hul sakke.

Rugby:

  • Faf de Klerk se Sale Sharks-span het vir La Rochelle 25 – 15 in die Europese Kampioenskapsbeker geklop.
  • Dan het Montpellier vir Gloucester met 30 – 27 getroef. Handré Pollard was egter nie deel van die aksie nie, aangesien hy nog van sy wangbesering herstel.

Krieket:

  • Die voormalige Klerksdorper, Marnus Labuschagne, het sy eerste toetshonderdtal vir Australië op die Gabba geslaan.

Die 25-jarige het 185 lopies geslaan in Australië se spogsege van ’n beurt en vyf lopies teen Pakistan.

  • Nóg ’n Suid-Afrikaanse uitvoerproduk, die Kiwi Neil Wagner, het ook amok onder die Engelse kolwers gemaak.

Dié oud-Affie het 5/44 in die tweede beurt van die eerste toets teen die Engelse geneem en het ’n groot rol in die Nieu-Seelanders se oorwinning van ’n beurt en 65 lopies gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.