Vandag se sportnuus

Shad Gaspard saam met Dwayne Johnson. Foto: Twitter.

Rofstoei:

  • Die World Wrestling Entertainment (WWE) het bevestig dat een van sy stoeiers, die 39-jarige Shad Gaspard, die afgelope naweek in die see by Venice-strand aan die Kaliforniese kus verdrink het.

Gaspard is Sondag as vermis aangemeld nadat hy saam met sy tienjarige seun, Aryeh, by dié wêreldbekende strand geswem het.

’n Fratsstroom het die twee egter meegesleur en die lewensredder het gespook om by hulle te kom. Aryeh was nader aan die strand en die lewensredder het eerste met hom na veiligheid geswem.

“Red asseblief my seun,” het Gaspard gesê voordat nóg ’n fratsgolf hom onder die water gedruk het.

“Dit het hoogstens ’n minuut vir die lewensredder geneem om na Shad terug te keer. Hy het hom tussen die golwe gesien, maar moes magteloos toekyk hoe nóg ’n golf hom meegesleur het,” het Kenichi Haskett, lewensredderhoof, gesê.

Die Amerikaanse kuswag en die lewensredders het sonder enige sukses na hom gesoek, en sy liggaam het gister op die strand uitgespoel.

Voordat Gaspard deel van die WWE geword het, het Gaspard basketbal op universiteit gespeel, terwyl hy ook as lyfwag vir sterre soos Britney Spears en Mike Tyson opgetree het.

As akteur was hy te sien in flieks soos Get Hard saam met Kevin Hart en Will Ferrell, sowel as Black Panther. In die WWE was hy deel van die Cryme Tyme-duo.

Huldeblyke stroom intussen vir Gaspard in en Dwayne Johnson het onder meer gesê dat hy ’n “wonderlike ou” was.

Rugby:

  • Die Springbok- en Bullsheelagter, Warrick Gelant, sal voortaan sy rugby vir die Stormers speel.

“Warrick is ’n ongelooflike speler en hy sal definitief ’n sukses van sy loopbaan maak; maak nie saak waar hy speel nie. Dit is hartseer dat hy gaan en ons sou hom graag op Loftus wou hou,” het die Bulls se direkteur van rugby, Jake White, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.