Vandag se sportnuus

Andy Murray vier sy spogoorwinning. (AP Photo/Seth Wenig)

Tennis:

  • Brittanje se Andy Murray het gister die horlosie tydens die Amerikaanse Ope in New York teruggedraai toe hy ’n groot agterstand uitgewis het om Japan se Yoshihito Nishioka in vyf stelle te wen.

Murray, wat sy terugkeer ná ’n ernstige heupbesering maak, het die eerste twee stelle van die wedstryd verloor, maar hy het verbete teruggeveg om die wedstryd met 4-6, 4-6, 7-6, 7-6 en 6-4 te wen.

Hy sal nou teen Kanada se Felix Auger-Aliassime in die tweede ronde te staan kom.

In verdere tennisnuus het Spanje se Roberto Bautista-Agut met Amerika se Tennys Sandgren afgereken. Die eindtelling was 6-4, 6-4 en 7-6 in die Spanjaard se guns.

Krieket:

  • ’n Blitzkrieg-beurt deur Mohammad Hafeez het die grondslag gelê vir Pakistan se sege van vyf lopies teen Engeland in Manchester.

Die 39-jarige Hafeez het ’n onoorwonne 86 van slegs 52 aflewerings gemoker om toe te sien dat Pakistan 190/4 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het.

Daarna het Engeland se beurt nooit werklik aan die gang gekom nie, en ten spyte van goeie beurte deur Moeen Ali (61) en Tom Banton (46) was dit net nie goed genoeg nie.

Rugby:

  • Die openingswedstryd van die Franse Top-14 tussen Stade Français en Bordeaux Bègles in Parys is weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Stade Français het verlede maand 25 positiewe Covid-19-gevalle gehad en hulle het nie genoeg gesonde voorryspelers gehad om van te kies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Tennys Sandgren se Ma is n Suid Afrikaner nes Roger Federer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.