Vurige Steyn wil Pakistan-paaltjies jag

Daar sal kwaai op Dale Steyn in die komende toetsreeks teen Pakistan gesteun word. Foto: Michael Sherman/ANA

Vyftien. Dít is hoeveel keer Dale Steyn die Pakistanse kolwer Mohammad Hafeez in toets- en eendagkrieketwedstryde uitgeknikker het.

En hoewel die regshandige Hafeez intussen sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het, kan kolwers soos Shan Masood en Fakhar Zaman steeds bontstaan, want die Phalaborwa Sneltrein is gereed vir aksie!

Die 35-jarige Steyn was ’n geruime tyd op die krukkelys, maar sy vertonings in die kitsreeks teen Australië en die pasvoltooide Mzansi Superliga het van selfs die grootste ongelowige Thomas ’n Elvis Blue-aanhanger gemaak: Steyn het hulle weer rede gegee om te glo.

In drie eendagkragmetings teen die Aussies het hy sewe paaltjies teen ’n indrukwekkende gemiddeld van 13,42 lopies per paaltjie geneem. Hy het die spoednaald gereeld in die rooi gedruk met aflewerings vinniger as 140 km/h en het in die proses vier top-ordekolwers terug kleedkamer toe gestuur.

Terug op tuisbodem het hy 12 paaltjies in die Mzansi-liga geneem. Die 6,48 lopies per boulbeurt wat hy in dié T20-reeks afgestaan het, is egter die vierde beste in die reeks vir boulers wat meer as tien boulbeurte geboul het. Net die draaiers Tabraiz Shamsi, Mohammad Nawaz en Rashid Khan het meer ekonomies geboul.

En die Protea-ringkoppe sal hoop dat Steyn op alle silinders in die komende toer vuur. Veral omdat Lungi Ngidi (as gevolg van ʼn kniebesering) en Vernon Philander (weens ’n vingerbesering) die reeks, of dan ’n gedeelte daarvan, sal misloop.

Hy sal dus die enigste speler in ’n moontlike Protea-boulaanval wees, wat Kagiso Rabada, Duanne Olivier en Keshav Maharaj insluit, wat al teen Pakistan gespeel het

Hy was weer op sy uiterste bes in die eendagreeks teen Australië. Foto: Cricinfo.

“Ja, Dale is slaggereed vir die Pakistani’s. Hy lyk fiks en uitgehonger,” sê Jacques Rudolph, Steyn se eertydse Titans- en Protea-spanmaat.

Rudolph se Steyn-assessering word deur een van Suid-Afrika se voorste krieketontleders, Neil Manthorp, ondersteun.

“Ek was baie beïndruk met Dale se vertoning gedurende die Mzansi-liga. Maar bygesê, ek was nie werklik daardeur verras nie. Hy is onsettend pragmaties en realisties oor sy loopbaan en verkeer onder geen illusies nie. Toe hy vroeër volgehou het dat hy tot volle fiksheid sal terugkeer, het ek hom geglo,” sê Manthorp.

“Hy ken sy lyf en as hy sê hy kan nog vir twee of drie jaar speel, glo ek hom. Om dinge te vereenvoudig: Alles hang van jou bereidwilligheid af om die lang ure in die nette en in die gimnasium in te sit. En Dale is sonder twyfel bereid om dit te doen.”

In tien toetse teen Pakistan het Steyn 47 paaltjies teen ’n gemiddeld van 21,82 geneem. Die feit dat die Welwillendheidsdagtoets van die Kaap na Centurion geskuif het, pas hom ook soos ’n handskoen.

In nege toetse op SuperSportpark het hy 56 paaltjies teen ’n treftempo van 30 balle per paaltjie geneem.

Steyn se ervaring en passie sal broodnodig wees in die komende toetsreeks. Hy kort een paaltjie om Shaun Pollock se Protea-rekord van 421 toetspaaltjies te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico ·

Hy is reg tot 1 of 2 kokwers jom weer kasty dan het hy skielik weer ‘n skouer, lies, hakskeen of watter deel ookal besering

Joe ·

Jy is 100% korrek! Hy vat mos eintlik maar net tailender wickets, bitter min opening,3rde en middle order. Dan maak hy homself met sy woeste “celebrations” ook nog seer! bwahaha

Werner Botha ·

Dale is tops, hoop hy bly so vir hele reeks, belaglik om te skimp dat hy seerkry as kolwer hom straf, hy reeds op sy beste as hy kwaad raak

Karl ·

@Werner, hy’s n porseleinpoppie, hy is soos destydse andre nel wanneer hy “kwaad” is, los, wyd en glad nie goed nie, sy kop verlaat hom helemal. Kom ons kyk eers of hy wel 5 dae kan jol lol, hy lief mos n seerkry hier op dag twee na 14 overs

Danie ·

Probeer eers deur 2dae kom, dan kyk ons haha jou tyd is op Steyn, maak spasie vir die jongmanne, volg AB se voorbeeld. Niks so erg soos eens n held wat vasklou aan stooi nie.

Bowl ·

Rabada en Ngidi se rue is seker seer van al die dra werk wat hul moet doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.