[Entrepreneurskap] ‘Luister na die klein stemmetjie’

klipkouers1Jacques Basson gesels met die entrepreneur Fanie Joubert. Hy bedryf ‘n gemengde boerdery met skape en graan en is ook die eienaar van Baleia Wines. Fanie is gebore en getoë in Riversdal. “Ons het ʼn kelder gebou waar ons ons eie outentieke wyn maak wat in die omgangstaal as boetiekwyn bekendstaan. Ek glo dis nogal besonders.”

  • Vertel ons bietjie meer omtrent jouself.

Ons boer op sowat 2 300 ha met omtrent 5 000 skape en ʼn paar beeste en dan het ons ʼn klompie olywe en ʼn wingerd. Ek glo dis nogal heel uniek vir hierdie gebied, want dit is die enigste wingerd binne ʼn radius van 80 km. Die gehalte wat ons daaruit verkry, is ook baie, baie goed soos die klomp toekennings wat ons al ontvang het, getuig. Ons het reeds twee keer elk Old Mutual én Michelangelo goue toekennings gekry, so dit gaan baie goed met die wyn – amper beter as met die gemengde boerdery! Die eintlike probleem is bemarking, maar ek dink ons sal oor daardie bruggie ook nog kom.

  • Watse gaping in die mark vul julle?

Om boetiekwyn te maak, wat nie vreeslik volop in Suid-Afrika is nie. Daar is wel Ons glo, en die toekennings bewys dit, dat dit ʼn baie unieke omgewing is waarin ons ons wingerd gevestig het.

  • Definieer asseblief boetiekwyn.

ʼn Boetiekwyn kom van ʼn wingerd wat in hoë kalkryke grond groei, en naby die see en in ʼn koel klimaat geleë is. Dit het ʼn stadige rypwordingsproses tot gevolg. Hierdie kombinasie lewer uitstekende druiwe.

  • Wat maak jou anders as jou kompetisie?

Die grond speel ʼn groot rol, saam met die klimaat. Dit is anders as die ander manne wat wingerde het.

  • Wat beteken julle wyn se naam; waar het julle aan die naam gekom?

Ons is naby Witsand en daar is ʼn baai met die naam St Sebastianbaai. Ons wou dit gebruik omdat ons naby die see is, maar ons kon nie ʼn naam kry nie. Toe het my skoondogter eendag met die naam vorendag gekom wat walvis in Portugees beteken. Dis egter nie heeltemal toevallig nie, want 70% van die omgewing se walvisse kom kalf in daardie baai, nie by Hermanus nie. En dis nie ék wat so sê nie; dis wat die statistieke wys. Toe het ons bietjie navorsing gedoen en gesien dat, in die 1650’s, die eerste Portugese daar gestrand en aan wal geloop het. Die Portugees wat daar gestrand het se naam was San Sebas … something (my geheue laat my in die steek), en dis ook waar die baai se naam vandaan kom.

  • Hoeveel wynplase is daar in Riversdal? Of is julle baanbrekers in daardie opsig?

Ons is eintlik baanbrekers. Die wingerdplaas lê baie na aan Vermaaklikheid, en as jy van Witsand af Stilbaai toe ry, dan ry jy by ons wingerdplaas verby, daar met die grondpad langs.

  • Hoe het julle daarop besluit? Juis omdat julle ook so ʼn diverse boerdery het? Of is dit maar net hoe julle georiënteerd is? Was julle op soek na iets om bietjie verder mee te diversifiseer of wat het gebeur?

Daar gaan ek vir my seun die klop op die skouer gee, want hy was so drie, vier jaar gelede op die plaas en sê toe vir my hy is verveeld; hy wil bietjie meer as net saaiery en skape hê, hy wil met vrugte boer. Ek het vir hom gesê steenvrugte sal nie lekker in hierdie gebied werk nie, en boonop is arbeid ʼn probleem en water nie baie volop nie. Toe sê hy, Pa, kom ons begin met olywe, en toe die olywe in die grond is, vra hy toe, hoe lyk dit met ʼn stukkie wingerd? Toe sê ek, ja dis reg, ons moet nou net ʼn bietjie meer kennis inwin en by iemand wat weet van die grondomstandighede en so gaan kers opsteek en dié persoon het onmiddellik gesê dis reg, en daar het dit begin.

  • Het julle gedink julle gaan so goed vaar? Wat was vir julle – ek wil amper sê, wat was die “best-case scenario”, of het julle ʼn idee gehad van hoe sukses sou lyk as minimum-vereiste?

Ons het so gepraat en vir mekaar gesê indien dit nie werk nie, is daar baie korporatiewe kelders aan wie jy kan lewer. Toe ons eerste trossies begin hang en mense kom kyk, raak ons toe opgewonde, want niemand kon glo dat dit daar staan nie, en dis nou maar hoe dit begin het.

  • Jy’t netnou gepraat van bemarking wat nogal ʼn groot uitdaging is. Hoe gaan julle te werk in hierdie stadium in terme daarvan, en natuurlik het jy die pryse, die kompetisies … ek dink dis altyd ʼn fantastiese strategie, veral as jy ʼn goeie produk of diens het en jy kan toekennings verower en aan die groot klok hang. So wat doen julle nog en hoekom is dit so ʼn uitdaging?

In Suid-Afrika, spesifiek Stellenbosch en daardie gebiede (die wyndele), het hulle mos geweldig baie wyn en kelders en almal maak aanspraak op die koek. Ons is mos nou deur en deur ʼn boetiekwyn, so ons is nou net ʼn stappie hoër, maar om dit te bemark en by die mense uit te kry is nie maklik nie. Ons het darem tans feitlik oral agente wat vir ons werk.

  • Is julle dan net gefokus op die Suid-Afrikaanse mark?

Nee, die bemarkingsbestuurder by die kelder was so ʼn rukkie terug Rusland toe. Ons het die geleentheid gekry om soheentoe te gaan, so ons werk aan die oorsese mark.

  • Wat is histories of tans ʼn groot pyn in jou besigheid? Dit is natuurlik in terme van hoe jy groei, veral as jy ʼn gekonsentreerde nisproduk of ʼn boetiekproduk soos julle s’n het. Wat was ʼn groot probleem? Of wat is steeds ʼn kopseer?

Ons grootste kopseer is nog steeds om in die buiteland ʼn naam te kry om te kan uitvoer. Dan is daar ook die arbeidswetgewing wat ons in die hakskene byt, nie soseer om vir my te vertel wat ek my mense moet betaal nie, maar om ontslae te raak van diegene wat nie sy kant wil bring nie. Dit is vir ons ʼn baie groot kopseer.

  • Hoe gaan jy te werk om jou naam te vestig?

Jy moet maar gereeld deelneem aan wynskoue sodat jy gesien kan word. Dit is van die min maniere waarop jy darem ʼn bietjie blootstelling kan kry.

  • Ek wil net terugkom na die kompetisie en daardie dinge; hoe het jy die ander wynkelders se reaksie op nóg ʼn wyn in die mark gevind? Was dit positief of negatief, of geen reaksie nie?

ʼn Bietjie negatief, dink ek, omdat ons hier van niks af gekom het en skielik kry ons die toekennings. Ek sê dit nou maar tong in die kies, maar ek dink die keldermeesters, wynmakers en wynboere is ʼn spesie op hulle eie; hulle deel nie sommer hulle suksesverhale nie. Glad nie. Hulle hou dit onder die emmer; hulle is nie soos ek wat my suksesverhale maklik deel nie.

  • Wat is die grootste besigheidsfout wat julle tot dusver gemaak het?

Ek het gesit en dink, en ek dink dis omdat ek nie vroeg genoeg begin het om grond te koop nie. Maar dit was ook maar te wyte aan die finansies. Dis nou vir die boerdery as ʼn geheel, want ons grondpryse het in die afgelope vyf jaar byna verdubbel.

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid of vrees?

As ek dit ervaar, gaan ek eenkant toe, en soos my vrou gisteraand vir my gesê het, dan gaan sit ek op ʼn klip en bedink die goed. Ek is ʼn pyproker, so dan steek ek my pyp op en bedink alles deeglik en wanneer ek dan opstaan, weet ek wat ek wil doen. Die belangrikste is net om rustig te raak en die ding eers te bedink. Moenie iets oorweeg as jy twyfel nie, kry eers rustigheid. As jy twyfel, neem jy miskien verkeerde besluite. Dan is daar mos maar daardie klein stemmetjie wat elke mens het. Ek sê dis jou klein breintjie wat vir jou sê jy moet in daardie rigting beweeg en jy kan maar luister na daardie klein breintjie.

  • Watter sagteware of applikasie (app) is vir jou baie belangrik, al sou dit vir jou persoonlik of vir die besigheid wees?

Kyk, die besigheid is eintlik in my seun se hande wat dit nou die afgelope klompie jare doen, want die tegnologie het mos geweldig gegroei en hy is meer op die hoogte daarvan as ek, maar my ding is my selfoon, pen en dagboekie. Kry jou inligting, maar moenie dit alles nahardloop nie. Veral met finansiële besluitnemings – skryf dit maar net neer, en môre kan jy presies dieselfde syfers weer sien en so kan jy daardeur werk. Maar as jy vinnig ʼn paar goed op jou selfoon getik het, is dit weg net sodra jy die “calculator” afsit.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Dink voor jy praat en moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-posadres is [email protected]

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ekke ·

Jul naam kan mense deurmekaar maak want dit kan die indruk skep dat dit n portuguese wyn is en portugal is nou nie juis bekend vir top wyne nie, so koppel n kort storietjie op die etiket en in jul promosiemateriaal wat die naam verduidelik soos jul hier doen.

My raad oor arbeiders is om hulle eers vir n ruk te laat werk as tydelike werker en dan net die bestes uit te kies om permanent te kom werk. Slim keuring is baie belangrik.

Dit klink asof jul wyn baie uniek is, ek gaan uitkyk daarvoor en self wil ervaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.