Die derde wedren in die Formule Een-kampioenskapsreeks vind Sondag in China plaas en tot dusver het Ferrari en Mercedes die toneel oorheers. Dis baie jammer dat die verskil in die ander motors se vermoë ʼn baie eensydige verwagting van die uitslag gee. Eintlik is die vraag gaan Ferrari of Mercedes wen?
Dit is egter verblydend om spanne soos Toro Rosso, Haas F1 en Force India na twee wedrenne in die top-tien te sien. Sal Williams ooit weer ʼn krag in Formule Een wees?
Na net twee wedrenne kan ʼn mens noem dat verskeie spanne al hul sarsie probleme beleef het. Daar was Kimi Raikkonen en Ferrari se kuipe-insident wat verlede week op ʼn werktuigkundige se gebreekte been uitgeloop het. Lewis Hamilton en Mercedes se ratkas-ruiling wat hom verlede week vyf plekke op die wegspringrooster gekos het en in die eerste wedren was die sagteware verantwoordelik vir Mercedes se pak slae. Red Bull het nou al byna gewoond geword daaraan dat hulle sukkel om ʼn wedren te voltooi. Daniel Ricciardo het nog net 12 punte ná twee wedrenne en Max Verstappen net agt.
Twee rondes is voltooi en die telling is 2-0 vir Ferrari. Baie min mense sou hul geldjies daarop verwed het voor die aanvang van die seisoen. Dit laat ʼn mens met die vraag: Kan Hamilton en Mercedes voorkom dat Vettel en Ferrari ʼn driekuns aanteken.
Wêreldkampioene het sedert 2013 nog nie in China verloor nie. Indien Sebastian Vettel egter in China wen voorspel dit probleme vir die ander spanne aangesien geen bestuurder ooit die eerste drie rondes gewen het en dan nie daardie jaar se titel verower het nie. Alain Prost was die laaste jaer (1982) wat die eerste paar wedrenne gewen het en toe nie die titel kon verower nie.
Mercedes het die laaste vier wedrenne in China gewen. Lewis Hamilton in 2014, 2015 en 2017, en Nico Rosberg in 2016.
Wie wil ʼn voorspelling waag? ʼn Driekuns vir Vettel of ʼn eerste oorwinning vir Hamilton? Gaan Vettel boonop sy 50ste oorwinning van sy loopbaan behaal? Vettel se oorwinning in Bahrein was sy 49ste. Net drie renjaers het meer as 50 oorwinnings op hul kerfstok: Michael Schumacher (91), Lewis Hamilton (62) en Alain Prost (51).
Vir meer inligting klik hier.
Mercedes is amper verseker vinniger as Ferrari. Al rede waarom Vettel voor is is dat hy en Ferrari meer bestendig was as hul opponente. Ek hoop maar hulle kan dit volhou.
En nie een van daardie manne met meer as 50 is/was die beste nie. Daar was maar net een Ayrton Senna da Silva…