Hoewel die Ford Focus tans die wêreld se topverkoper is, is hy nie so gewild in Suid-Afrika soos in ander dele van die wêreld nie.
Dit kan egter voor die einde van die jaar verander wanneer die opgekikkerde weergawe van die huidige Focus hier bekendgestel word. Die grootste verandering wat sy stilering betref, is die neus, wat baie soos dié van die Fiesta sal lyk. Die agterkant van die luikrugmodel, waarvan heelwat foto’s op die internet te sien is, het nie veel verander nie.
Dit is egter onder die enjinkap waar die groot veranderinge sal plaasvind. Die huidige reeks enjins sal vervang word met Ford se reeks turbo-aangejaagde Eco Boost-enjins. Die 1,0 liter-enjin is reeds in die Fiesta en die Eco Boost beskikbaar, en sekere Focus-modelle sal ook darmee toegerus word. Daar sal ook twee weergawes van ‘n nuwe 1,5 liter-enjin, wat onderskeidelik 110kw en 132kw lewer, beskikbaar wees. Daar is nog geen sprake van ‘n dieselenjin nie,maar die moontlikheid bestaan dat ‘n nuwe enjin van 1,5 liter ook deel van die reeks sal wees.
Die presiese spesifikasies van die modelle wat in Suid-Afrika bekendgestel word, is nog nie bekendgemaak nie, maar een kenmerk wat blykbaar wel hier beskikbaar sal wees, is My key. Dit stel die eienaar in staat om die maksimumsnelheid waarteen die motor bestuur kan word en die volume van die klankstelsel onder meer te beheer en te maak dat die motor glad nie bestuur kan word tensy al die insittendes sitplekgordels dra nie. Nog ‘n nuwe kenmerk wat dalk hier beskikbaar sal wees, is SYNC 2, ‘n nuwe weergawe van Ford se SYNC-stelsel, wat toegang tot die klankstelsel, klimaatbeheer en die navigasiestelsel sal verbeter. Die stembeheer, wat deel van die huidige stelsel is, sal ook meer gevorderd wees.
Die internasionale bekendstelling van die nuwe Focus-reeks sal by aanstaande maand se Geneefse motorskou plaasvind, en hulle behoort voor die einde van die jaar hier op die mark te kom.