Voertuigverkope: Goeie maand vir Toyota, VW

Die Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 (Foto: Toyota)

In ag genome die algemene gevoel van pessimisme wat die land se ekonomie betref, is dit merkwaardig dat totale huishoudelike voertuigverkope van 45 939 eenhede in Junie beter was as Mei se teleurstellende vertoning van 42 950.

As voorbeeld hiervan was markleier Toyota se skitterende verkope verlede maand 11 814 voertuie teenoor Mei se 9 513.

In die passasiersmotorafdeling het 28 885 eenhede nuwe eienaars gevind wat ʼn verbetering van nagenoeg 2 700 verkope is teen Mei se totaal.

In die geval van ligte handelsvoertuie – oftewel bakkie en paneelwaens – het hierdie segment ook goed presteer met altesaam 14 495 wat weer eens ook nagenoeg 2 000 verkope meer was.

Onder die Top-Tien-vervaardigers/invoerders was Toyota, soos gebruiklik, baas met heelwat daglig tussen sy prestasie en tweede geplaasde Volkswagen wat darem 6 653 kopers kon oortuig.

In die derde plek gaan Nissan van krag tot krag met 4 503 en bly daarmee gerieflik voor Ford se 3 823 verkope.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Hyundai bly in sy gebruiklike vyfde plek met ʼn “telling” van 2 594, met Renault kort op sy hakke met 2 438 eenhede wat na nuwe eienaars gegaan het.

Isuzu, sewende met 1 803, word gevolg deur Suzuki met die verrassing van die maand (1 479). Hierdie Japanse invoerders gaan van krag tot krag danksy sy gewilde Swift en die waglys van 900 vir die Jimny.

Suzuki se agtste plek is ten koste van BMW (1 439 en negende) wat weer op sy beurt gemaklik met Mercedes-Benz (1 176) afgereken het.

Wat in die luukse en supermotorafdeling uitgestaan het was, soos altyd, Porsche se puik 101 verkope, Maserati op 6 verkope, Lamborghini  op 5, Bentley met 4 verkope, Ferrari met 3, en Audi R8 se 2.

Onder die eienaardighede wat in Junie se Naamsa-syfers na vore gekom het, is dat 26 kopers hulle beursies vir die Alfa-Romeo 4C oopgemaak het, terwyl net 73 kopers vir die Subaru van hulle keuse gestem het. Hou gerus ook Haval dop (811) want hierdie Chinese invoerder is op pad boontoe.

Die Renault Kwid. Foto: Verska

In die Toyota-stal gee grootboet Fortuner (1 419) nog steeds die pas aan teen RAV4 (653).

So van Toyota gepraat: Hierdie Japanse reus (wenner van die Dakar én die Le Mans 24-uur vanjaar) het rustig sy Hilux-bakkiereeks deur die 4 000-verkopegrens laat bars – die eerste keer in hierdie staatmaker se geskiedenis, vermoed ek – en dit in die jaar wat die Hilux sy 50ste suksesvolle jaar in ons land vier.

Die vraag bly egter of die magstryd binne die regerende orde ʼn negatiewe uitwerking op ons ekonomie gaan hê – met ʼn gepaardgaande remmende effek op die motorbedryf – en of die president sy greep op die kabinet gaan verstewig.

Top-tien passasiersmotors:

  1. Volkswagen Polo Vivo 2 571
  2. Volkswagen Polo 1 887
  3. Toyota Fortuner 1 410
  4. Renault Kwid 1 056
  5. Ford EcoSport 819
  6. Toyota Corolla 745
  7. Datsun GO 723
  8. Hyundai i20 670
  9. Toyota Etios 659
  10. Toyota RAV4 653

Top tien ligte handelsvoertuie:

  1. Toyota Hilux 4 770
  2. Ford Ranger 2 029
  3. Nissan NP200 1 709
  4. Isuzu D-MAX 1 529
  5. Toyota Quantum 1 345
  6. Nissan NP300 667
  7. Mahindra Scorpio 241
  8. Volkswagen Amarok 225
  9. GWM Steed 179
  10. Volkswagen Caddy 163

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Zaks ·

Eks onder die 73 SUBARU. Sal doodgaan onder SUBARU. NO CONTEST!

Wielspore ·

Ek het nogal gedink dat die Mahindra XUV300 goed sou verkoop nadat hy net ‘n bietjie meer as ‘n maand terug bekend gestel is. Dit het nie gebeur, wag van die kopers dan vir die T-Cross van VW. Daar word verneem dat voornemende T-Cross kopers alreeds deposito’s betaal het om ‘n aankoop te reserveer sodra die model bekend gestel word.

Andre C ·

Ek wonder hoekom die kleiner Japanese vervaardigers soos Isuzu en Suzuki nie saamstaan nie.n Gedeelde netwerk kan beide bevoordeel en produkreeks oorvleuel nie.

Andre C ·

Ek wonder hoekom die kleiner Japanese vervaardigers soos Isuzu en Suzuki nie saamstaan nie.n Gedeelde netwerk kan beide bevoordeel en die produkreeks oorvleuel nie.

Vraagteken ·

Stem 100% saam met jou. Suzuki is deesdae op hulle ‘game’ en hulle diens is uitstekend. Die nuwe swift is uitstekende waarde vir geld en hy sal baie lank hou (iets wat nie van ander vervaardigers gesê kan word nie).

Nic ·

Ek wonder maar net hoekom Haval nie die top 10 passasiersmotor lys gehaal het nie. Dis tog ook ‘n SUV soos die Toyota Fortuner en moes dus op die 6de plek geplaas wees?

chrisjan ·

Toyota kraai weereens koning met bakkie verkope.Nou word daar ‘n spesiale weergawe bekendgestel met sommige van Gazoo Racing spesifikasies ingebou.NOU sal Ford moet uithaal met hul Ranger ! (wat ‘n baie goeie bakkie is vir sy prys).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.