Bekendes straal in swart en rooi op Emmys-tapyt

Bekendes het geskitter op vanjaar se Emmys-tapyt. (Foto’s: Instagram/@enews)

Rooi en swart was klaarblyklik die kleur van die aand tydens die 75ste Emmy-toekennings wat Maandagaand in Los Angeles in die VSA plaasgevind het.

Bekendes soos Katherine Heigl, Sarah Snook, Juliette Lewis en Meghann Fahy van The White Lotus het in stylvolle, rooi skeppings gestraal.

Heigl, bekend vir haar rol in Grey’s Anatomy, het ʼn helderrooi Reem Acra-rok gedra met ʼn Marilyn Monroe-agtige bob-haarstyl.

Camila Morrone, wat benoem is vir haar rol in Daisy Jones and the Six, het bewys dat eenvoud treffend bly in haar noupassende Versace-skepping.

Die aktrise en model het geen spoggerige juweliersware nodig gehad om koppe te laat draai nie, en het haar lang, donker lokke los gedra.

Daar was ook gʼn tekort aan swart nommertjies nie.

The Crown se Elizabeth Debicki, Selena Gomez, Kourtney Kardashian, Christina Ricci, asook Riley Keough en haar ouma, Priscilla Presley, het almal in dié kleur gepronk.

Keough is ook een van vele bekendes wat haarstrikke as bykomstigheid vir vanjaar se toekenningseisoen gekies het.

Aktrises soos Jessica Chastain en Claire Danes het egter uitgestaan in helder, vrolike kleure met Chastain in ʼn blink lemmetjiegroen nommertjie met ʼn lae neklyn en Danes in ʼn sjiek babapienk rok.

Eienaardige skeppings wat koppe laat draai het, sluit The Bear-ster Ayo Edebiri se pasgemaakte, swart Louis Vuitton-leerrok, asook die The White Lotus-aktrise Simona Tabasco se decoupage-geïnspireerde uitrusting van die ontwerper Marni.

Die Hollywood-legende Joan Collins, Barbie-aktrise Issae Rae en Ted Lasso se Hannah Waddingham het ook bewys dat blink krale steeds ʼn plek op die rooitapyt het.

Collins het veral stylvol gelyk in ʼn babablou skepping van Jenny Packham – een van prinses Catherine van Wallis se gunstelingontwerpers.

Die manne het ook nie teleurgestel nie.

Akteurs soos Anthony Anderson, vanjaar se Emmys-aanbieder, en Donald Glover het aandpakke met geborduurde detail vir die aand gekies.

Bekendes soos Jeremy Allen White, Jon Ham en James Marsden het op klassieke style vir die geleentheid besluit.

Bykomende bronne: Variety, CNN News, Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.