‘Binnelanders’-akteurs span saam om kollega te help

Raquel Olge. (Foto: Verskaf)

Wanneer die Binnelanders-akteurs vroegoggend in die haarstileringstoel sit om opgetof te word vir ʼn besige dag op stel, kan hulle altyd hul hart oopmaak teenoor hul “Binnelanders-ma”, Raquel Olge.

Sy is altyd bereid om te luister en raad te gee oor enige probleem waarmee die akteurs en aktrises by haar kom afpak.

Daarom het Je Ani Swiegelaar, wat die rol van Naomi Ferreira in dié gewilde sepie vertolk, nie eens twee keer gedink om in te spring toe Raquel hulp nodig het nie.

“Welwillendheid begin by die huis. As ons nie die mense naaste aan ons kan help nie, hoe wil ons dan vreemdelinge help? Ons moet mekaar ophef en ondersteun,” sê Swiegelaar.

Sy vertel Olge werk al langer as tien jaar as haarstilis op die Binnelanders-stel en is geliefd onder almal wat deel is van die sepie. “Raquel het ʼn karretjie, maar sy sukkel al met hom vandat sy hom tweedehands gekoop het. Die kar hou net aan probleme gee,” sê Swiegelaar.

“Die kar oorverhit en sy het al talle kere langs die pad gaan staan. Sy en haar vyfjarige dogtertjie was onlangs in Harties, en op pad terug het hulle agt keer langs die pad gaan staan! Dan moet sy elke keer wag dat die voertuig eers afkoel voor sy verder kan ry.”

Raquel saam met Brümilda van Rensburg. (Foto: Verskaf)

Swiegelaar vertel dat Olge die motor na ʼn plek geneem het om te laat regmaak, maar nadat sy vir die herstelwerk moes opdok, het die motor net weer probleme begin gee. “Toe sy hom terugvat na die plek, vertel hulle haar dis nou weer iets anders wat reggemaak moet word en dít gaan haar tien keer meer kos as die vorige herstelwerk,” sê sy. “Geld wat Raquel beslis nie het nie.”

Toe Olge die volgende dag in ʼn toestand by die werk aankom, het Swiegelaar geweet sy moet help. Sy en Germandt Geldenhuys, ʼn goeie vriend en ook ʼn Binnelanders-akteur, het dadelik besluit om ʼn skarefinansieringsinisiatief vir Olge van stapel te stuur.

“Ons het gedink skarefinansiering is die beste manier om dit te doen, want dit is mense wat mense help. En ons wil vir Raquel help.”

Natuurlik was die res van die Binnelanders-span meer as bereid om hul steun aan die projek toe te sê deur foto’s en video’s op sosiale media te deel en mense aan te moedig om die geldinsameling te ondersteun.

“Ons is reeds so dankbaar vir die ondersteuning wat ons klaar ontvang het,” sê Swiegelaar. “Ons sien op die skarefinansieringswebwerf daar is twee mense uit Amerika wat geld geskenk het. Vreemdelinge wat sommer net hul harte oopmaak. Dit is so bemoedigend! Ons is natuurlik nog glad nie waar ons wil wees nie, maar ons is op die regte pad.”

Raquel Olge is ‘n geliefde lid van die “Binnelanders”-familie. (Foto: Verskaf)

Swiegelaar verduidelik hulle hoop net om genoeg geld in te samel om ʼn klein, nederige voertuig vir Olge te kan koop, wat haar veilig van een plek na die ander kan neem. “Ons wil net nie hê sy moet meer op sulke onveilige plekke langs die pad gaan staan, vroualleen of nog erger, met haar klein dogtertjie in die kar nie,” sê sy.

Sy en Geldenhuys hoop om R50 000 in te samel vir ʼn nuwe ryding vir Olge, en teen Donderdagoggend was hulle reeds R8 000 nader aan hul teiken.

“Hierdie skenkings sal ʼn ongelooflike groot uitwerking op Raquel se lewe hê. Sy is iemand wat altyd daar is vir ander, altyd ander mense bo haarself plaas en haar kind se beste belange op die hart dra.”

Klik hier om die geldinsameling te ondersteun en ʼn bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

GertjieDieErtjie ·

Maar ons kan nogsteeds nie iets goeds doen, sonder om dit te verkondig nie!

Elna ·

Weet jy daar sal altyd mense soos jy wees wat dit lelik maak. Hul moet dit natuurlik verkondig hoe gaan hul skenkings kry. En dis wonderlike nuus dat mense mekaar help so gaan druk ‘n boom en kom oor jou negatiewe denke. Ek het hul ondersteun.

Pippie ·

GertjieDieErtjie, dit is beslis nie goedheid verkondig nie!!…wat ‘n fantastiese gebaar en bie dankie aan elke skenker!

charmaine ·

Verkondig of nie ons moet in hierdie wrede en deurmekaar land nog steeds probeer om iemand te help. Ek het n paar keer n ou wit omie langs die pad gesien wat bedel en ek het net besluit vir hom sal ek n geldjie gee gewoonlik gee ek nie vir die mense langs die pad nie, maar dit was net asof die gedagte deur die Here in my gekom het want dit kan more my Pa wees wat daar staan en toe ek n kans kry om te stop en op daai oomblik my beursie by my gehad toe gee ek vir hom R10 en ek het myself voorgeneem as ek my beursie by my het en daar is geld in gaan ek dit vir hom gee.

Zettie ·

Ek het ook ‘n betroubare voertuig nodig. Kan iemand vir my ook ‘n skarefinansieringsveltog begin asb? Baie dankie solank………..

Rina Kotze ·

Dit is ‘n baie mooi gebaar!

En ja, “charity begins at home!”

Ek is seker sy gaan dit baie waardeer.

Bolla ·

Wat n mooi gebaar. Veral in hierdie tyd wat elkeen net aan homself dink. Well done

wonder ·

Dit gaan nie oor verkondiging nie, SA is in so gemors dis so nou en dan lekker om te Sien iets goeds gebeur nog!!!!!

melanie ·

Partymaal doen mense goed en bly stil oor dit.. ander verkondig dit omdat hul glans soek… maar ek dink in die storie kan ons lees dat dit nie oor glans gaan nie.. maar dit leer ons eerder dat al gaan staan jy met jou 5 jarige dogtertjie ( wat natuurlik bang is ) langs die pad, is die Here tog daar.. en dan stuur hy vir jou engele om te keer dat jy weer in so situasie beland… Baie dankie vir julle

Katryn ·

Mooi so binnelanders.
Ek was in die stad my skoen se band het gebreek besluit trek uit die skoene sit hulle en loop kaalvoet tot waar ek skoene kan koop ek het n ent geloop toe iemand my aan die arm vat toe ek so af kyk wou eers my arm losruk toe is dit een van die straat kindets in sy hand het hy n paar muntstukke hou dit uit na my en se mamma koop vi jou skoene. Net daar het ek langs hom neer gesak n drukkie gegee sy hand gevat na die naaste eet plek geloop en hom laat kies om te eet wat jy wil het ook n wegneem pakkie laat maak vir sy maaitjies. Ek loop nooit by n straatkind verby sonder om my hand in my beursie te steek nie

melanie ·

Partymaal doen mense goed en bly stil oor dit.. ander verkondig dit omdat hul glans soek… maar ek dink in die storie kan ons lees dat dit nie oor glans gaan nie.. maar dit leer ons eerder dat al gaan staan jy met jou 5 jarige dogtertjie ( wat natuurlik bang is ) langs die pad, is die Here tog daar.. en dan stuur hy vir jou engele om te keer dat jy weer in so situasie beland… Baie dankie vir julle. Mag julle ook geseen word

Jiembo ·

Ek verstaan dat julle vir Olge wil help en dit is ook reg so, maar ek het n beter idee. Julle is n groot span akteurs by Binnelanders, ek tel in die foto’s hier aangeheg al in orde van twintig.
Skenk julle elkeen n R1,000 en At (Hans Strydom) dra die balans by om vir haar n betroubare voertuig te koop. Volgens wat jul storie ons elke aand wil vertel is hy mos skatryk! Maklike oplossing en dan geen aandag- soekery met hierdie skarefinansiering storie nie.

Liza ·

Hierdie is nie verkondiging van wat hulle vir haar doen nie! Dit is BEMARKING van ‘n goeie saak. Hulle hoop meer mense raak bewus en skenk ‘n geldjie, dit is al! Regtig, gun die son oor iemand anders!

Anna ·

Die wat so kla en die woord “VERKONDIG” gebruik, is gewoonlik die wat niks sal gee nie, tog te bang sy/haar skatkamer word dalk leeg. Kom net by!!

Tweetie ·

Het ophou Binnelanders kyk, dit kan net sowe Suid-Ooster wees.

Betsie ·

Hoe gaan mens te werk om skare finansiering te kry?Ek benodig R150 000 vir my kind se universiteits kostes. Is ‘n enkel ouer.

Susan ·

Ek gee nie om watter rede hulle haar help nie, Julle wat die vrot eiers le, wil julle he sy en haar dogtertjie moet nog ‘n statistiek van verkragting en moord wees.

Rina ·

Aag nee, bitterbekke. Die Binnelanders is soos n familie en mens help jou familie en die vroutjie het hulp nodig gehad. As Binnelander kyker is ek trots op julle. n Omgee spannetjie. Kan een van die motor maatskappye nie vir haar met n karretjie help met die bedrag wat ingesamel is nie.
♥️⭐????????????

Berdéhan Brand ·

Dit is ñ mooi inisatief – jammer dat die vervaardigers dit in die hande van hul werknemers laat. Dit is nie die ideaal nie.
Kan borge, vennote en mede- vervaardigers nie inspring en hier óók bydra nie? (oa MultiChoice).
Die vervaardigers van BL kan dus ook hul voodeleskaal heroorweeg en minstens toesien dat hul werkers (in ag genome die lang werksure) veilig by die werk kom. Daar is sekere baiese voordele (as dit jou veiligeid bedreig) wat in plek gestel moet word. Daarvoor is Binnelanders verantwoordelik.

Rina ·

Aag nee, bitterbekke. Die Binnelanders is soos n familie en mens help jou familie en die vroutjie het hulp nodig gehad. As Binnelander kyker is ek trots op julle. n Omgee spannetjie. Kan een van die motor maatskappye nie vir haar met n karretjie help met die bedrag wat ingesamel is nie.
♥️⭐????????????

Katryn ·

Mooi so binnelanders.
Ek was in die stad my skoen se band het gebreek besluit trek uit die skoene sit hulle en loop kaalvoet tot waar ek skoene kan koop ek het n ent geloop toe iemand my aan die arm vat toe ek so af kyk wou eers my arm losruk toe is dit een van die straat kindets in sy hand het hy n paar muntstukke hou dit uit na my en se mamma koop vi jou skoene. Net daar het ek langs hom neer gesak n drukkie gegee sy hand gevat na die naaste eet plek geloop en hom laat kies om te eet wat jy wil het ook n wegneem pakkie laat maak vir sy maaitjies. Ek loop nooit by n straatkind verby sonder om my hand in my beursie te steek nie

JaNe ·

Wil jy my vertel Binneland betaal soooooo sleg.
Hoekom kan die personeel nie ordentlik lewe nie?
Skrif wakker kykers. Julle geld gaan na 1 vrou toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.