‘Bravo!’ se Robbie ‘in die wolke’ oor swangerskapsnuus

Robbie en Lynn Kruse (Foto: Instagram)

In sy lewe staan twee gebeurtenisse kop en skouers uit as die beste twee prestasies wat hy nóg behaal het, vertel die radio-omroeper en televisiepersoonlikheid Robbie Kruse: Sy huwelik met die liefde van sy lewe, Lynn, en die swangerskapnuus wat die egpaar Maandag bekend gemaak het.

Robbie vertel Maandag in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media hy het nooit besef hoeveel emosies hy sou ervaar soos toe hy en Lynn gehoor het hulle gaan ouers word nie.

Die egpaar het ʼn tyd gelede reeds gehoor hulle verwag ʼn klein bondeltjie, maar wou eers wag tot hul dokter die groen lig gee voordat hulle dié nuus met die wêreld deel; en nou is daar byna niks anders waaroor hy wil praat nie.

“Dit was amazing toe ons die eerste keer die baba se hartklop gehoor het,” vertel hy. “Ons het op sowat ses weke vir die eerste keer gehoor Lynn is swanger. Die dokter het verlede week Vrydag gesê alles lyk wonderlik en dit lyk of die baba gesond is. Ons het daarom besluit om die goeie nuus vandag [Maandag] met almal te deel.”

Robbie sê hy en Lynn is albei in die wolke oor haar swangerskap. “Ons albei wou van die begin af kinders gehad het,” sê hy. “Ons probeer al vir ʼn hele rukkie, en nou is ons uiteindelik hier. Ek het nooit gedink ek sou voel soos ek voel nie. Jy dink nooit oor hoe jy sal voel om ʼn klein kindjie wat jou eie is op pad te hê nie; maar dis regtig amazing.”

Op hul troue in Mei 2015 het hy die gaste behoorlik na hul snesies laat gryp toe hy na Lynn as die grootste prestasie van sy lewe verwys het. Dít is sy steeds, veral met hul baba op pad. “Haar swangerskap is nou ons twee se grootste prestasie as ʼn span. Ek wou ouerskap met niemand anders deel nie. Lynn is my alles, ek maak geen geheim daarvan nie, en hierdie nuus is vir ons albei net wonderlik.”

Robbie en Lynn Kruse (Foto: Instagram)

Die egpaar wil eers wag tot die geslag van hulle pienkvoet bekend is voordat hulle planne vir ʼn babakamer begin beraam. Maar Lynn is “die heeltyd op Pinterest en save foto’s van babakamers” en dan raak hy sommer “nog meer opgewonde”, sê hy.

Hy sal ná die geboorte van hul kind graag wil afskaal om meer saam met sy gesin tuis te wees. “Ons albei is gedrewe mense wat daarvan hou om te werk. Ons wil dus steeds besig bly, maar afskaal – veral aan die begin. Lynn is eintlik die een wat baie daarvan hou om besig te wees, maar ek wil hê sy moet so min as moontlik doen,” vertel hy. “Ek wil betrokke wees as ʼn pa, sien hoe ons kind grootword en daar vir hom of haar wees. En dís iets wat ons albei gaan doen.”

Die egpaar, wat hul private lewe uit die media hou, sê hulle wou dié nuus met aanhangers deel omdat hulle wyd en syd ondersteuning van mense ontvang. “Ons wou dankie sê vir al die mooi boodskappe; ons waardeer elkeen daarvan. Dis lekker om te sien hoe mense jou ondersteun en dat sulke goeie nuus ook ander mense opgewonde maak.”

Robbie is weekdae sportaanbieder op 5FM en is ook te sien as aanbieder op die kykNET-leefstylprogram Bravo!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marinda ·

Ag dis wonderlike nuus. Ek is sommer baie, baie bly vir julle twee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.