David Rees steeds in hoësorg

David Rees. (Foto verskaf)

Dit is nou al drie weke sedert die 7de Laan-akteur, David Rees, ʼn dubbele hartomleiding moes ondergaan nadat hy op Sondag 30 Julie ʼn hartaanval gehad het.

Corlia Strauss, Rees se publisiteitsbestuurder, het aan Maroela Media bevestig dat hoewel hy steeds in die hoësorgeenheid van die Milpark Hospitaal in Johannesburg behandel word, hy besig is om goed te herstel.

“Sy ma het vroeër vanoggend vir my gesê dat hy al loop en baie beter lyk,” het Strauss gesê.

Rees is op 10 Augustus van die waakeenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas nadat hy goeie vordering gemaak het. Sy pulmonoloog is egter nog besorg oor sy herstelproses, en daar word tans uiters streng infeksiebeheer oor Rees se besoekers toegepas.

Alhoewel sy 7de Laan-kollegas nog nie by hom kon gaan kuier nie, sê Strauss dat hulle ʼn hartroerende video-boodskap van bemoediging met hom gedeel het.

Die akteur, wat destyds bekendheid verwerf het as die stoutseun Nick Naudé in die sepie Egoli – Plek van goud, behoort nie aan ʼn mediese fonds nie.

Die hospitaal het die familie tegemoetgekom met ʼn rekening, maar dit is ʼn massiewe bedrag wat ongelukkig net nie sonder hulp haalbaar is nie, sê Strauss.

Maroela Media het vroeër berig Rees se suster, Monique Buttle, het intussen ʼn Back a Buddy-fonds vir David gestig. ʼn Doelwit van R500 000 is op dié blad ingestel.

Daar is reeds nagenoeg R87 000 ingesamel.

“Ons is nog nie heeltemal by ons doelwit nie, maar ons is ongelooflik dankbaar vir elkeen wat al ’n bydrae gemaak het,” sê Strauss.

“Daar is selfs ’n anonieme persoon wat R20 000 op een slag geskenk het.”

Strauss vra dat Rees en sy gesin se privaatheid in dié tyd gerespekteer word, maar dat bemoedigende boodskappe altyd welkom is.

Om tot David Reeds se fonds by te dra, volg die Back a Buddy-skakel of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Strauss nooi mense ook uit om bemoedigende boodskappe aan Rees na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.