Die hertog en hertogin van Sussex, prins Harry en Meghan Markle, het Maandag amptelike foto’s van hul glansryke lentetroue in die St. George-kapel in Windsor gedeel.
Derduisende mense het Saterdag in die strate van Windsor saamgedrom vir ʼn vlugtige blik op die bruidspaar toe hulle ná die seremonie op ʼn koetstog deur die strate van Windsor vertrek het.
Die Kensington-paleis het Maandag op sosiale media gesê die amptelike foto’s, waarin die egpaar se gevolg en ook koningin Elizabeth II, prins Philip en prins Charles verskyn, is ná die koetstog in die Windsor-kasteel geneem.
“Die hertog en hertogin wil graag elkeen bedank wat deelgeneem het in die viering van hul troue,” lui ʼn verklaring van die paleis. “Hulle voel bevoorreg dat hulle dié dag kon deel met almal wat in Windsor se strate saamgekom het en diegene reg oor die wêreld wat na hulle huweliksbevestiging op televisie gekyk het.”
Die amptelike Twitter-blad vir nuus oor die Britse koninklike familie het ook dié foto’s gedeel en gesê Harry en Meghan wil elkeen bedank vir hul boodskappe van gelukwensing.
Bekendes op egpaar se gastelys het Elton John en sy lewensmaat, David Furnish, David en Victoria Beckham, George en Amal Clooney, Marcus Mumford van die groep Mumford & Sons en sy vrou, Carey Mulligan, Oprah Winfrey, James Blunt, Serena Williams, Priyanka Chopra, Idris Alba en Joss Stone ingesluit.
Rick Hoffman (Lois Litt), Abigail Spencer (Scotty), Sarah Rafferty (Donna), Patrick J. Adams (Mike) en Gina Torres (Jessica Pearson), wat saam met Markle in die gewilde televisiereeks, Suits, gespeel het, was ook teenwoordig.
Markle se rok is deur Clare Waight Keller, die eerste vroue- kreatiewe hoof van die modehuis Givenchy, ontwerp.