Foto’s: Verkiesingskoors tref Hollywood, bekendes

Julia Roberts. (Foto: Instagram/Julia Roberts)

Die VSA is vandeesweek in rep en roer met die verkiesing van die nuwe president. Die huidige Republikeinse president, Donald Trump, is in ʼn naelbytstryd met die Demokratiese presidentskandidaat Joe Biden gewikkel.

Talle bekendes het op sosiale media benadruk net hoe belangrik dit is om te stem en hul aanhangers aangemoedig om na die naaste kiessentrum af te sit.

Sommige het hul steun vir Trump duidelik gemaak terwyl ander in Biden se kraal was. Bekendes soos Julia Roberts, Alicia Silverstone, Lady Gaga, Jennifer Aniston, Hailey Baldwin Bieber en Demi Lovato het foto’s op Instagram gedeel waar hulle by ʼn kiessentrum was.

Volgens Insider het ʼn hele rits bekendes vanjaar vir die eerste keer in ʼn VSA-verkiesing gestem. Die musikant Kanye West, die Kanadese akteur Ryan Reynolds, die To all the boys-ster Noah Centineo, aanbieder Kelly Ripa en akteur Mark Consuelos se dogter Lola en die omstrede kletsrymer Snoop Dogg het almal vanjaar vir die eerste keer hulle kruisies getrek.

Selena Gomez het in haar tuisdorp van Texas ook vir die eerste keer haar kruisie getrek. Die 28-jarige sangeres het in ʼn aanlyn episode van Voting Power Hour gesê sy het nooit voorheen gestem nie aangesien sy gevoel het haar stem maak nie ʼn verskil nie.

“Toe ek eers werklik hierin begin delf, was dit al waarop ek kon fokus,” het sy gesê.

Jennifer Aniston. (Foto: Instagram/Jennifer Aniston)

Snoop Dogg het gesê dat hy vir jare geglo het hy mag nie stem nie weens sy kriminele rekord.

“My rekord is egter nou uitgewis, so ek mag weer stem,” het die 49-jarige kletsrymer op die radiostasie Real 92.3 se program Big Boy’s Neighborhood gesê.

Hy het saam met Obey-stigter Shepard Fairey ʼn aanlyn inisiatief, “Vote with Snoop”, van stapel gestuur om Amerikaners aan te moedig om te stem.

Sommige bekendes het selfs openbare verskynings by kiessentrums gemaak om mense aan te moedig om te stem. Die Latynse aktrise Jessica Alba het in Arizona by ʼn kiessentrum gekuier. Sy het, net soos Lady Gaga, Jennifer Aniston en Hailey Baldwin Bieber, haar steun aan Biden getoon.

“Hier in Arizona! Maak seker jy stem!” het Alba in ʼn Instagram-video gesê terwyl vriende plakkate wat steun aan Biden en Kamala Harris verkondig, omhoog hou.

“Ek is Latina, ek is ʼn entrepreneur, en ek wil net vir julle ouens wys dat die wêreld anders kan wees, dat dit beter kan wees,” het sy bygevoeg in ʼn video vir die niewinsgewende organisasie Chicanos por la Causa.

“Gelykheid, geleentheid, waardigheid – ons verdien dit. Ons mense verdien dit.”

Bronne: Insider.com, Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.