Hoe lyk Hollywood: Nóg handelsmerke vir miljardêr Kylie Jenner

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Kylie Con

Kylie Jenner. (Foto: Instagram)

Kylie Jenner, die 22-jarige skoonheidsmagnaat en Keeping up with the Kardashians-ster, het vandeesweek op Instagram bekendgemaak dat sy die dokumente ingedien het om die frases “Kylie Con”, “Kylie Kon” en “Kylie Museum” as ʼn handelsmerk te verklaar.

Die Amerikaanse saketydskrif Forbes het in Maart verlede jaar aangekondig dat die werklikheidsprogramster en eienaar van die grimeringmaatskappy Kylie Cosmetics op die ouderdom van 21 amptelik die jongste selfgemaakte miljardêr ooit is.

Jenner beplan glo om dié frases te gebruik vir klere en bykomstighede vir volwassenes en kinders asook vir skoonheidskonsultasies, klasse, werksessies, uitstallings en interaktiewe ervarings vir sosiale vermaakdoeleindes.

Volgens E! News het Josh Gerben, handelsmerkprokureur in Washington in die VSA, dié nuus op Twitter bevestig. Gerben is nie betrokke by Jenner se saak nie.

Jenner het self nog nie kommentaar gelewer op die nuwe handelsmerke nie, maar dit klink of die Kylie Cosmetics-stigter beplan om ʼn samekoms wat gesentreer is rondom haar skoonheidsryk aan te bied.

Die ster beplan ook ʼn skoonheidsversameling wat geïnspireer is deur haar tweejarige dogtertjie, Stormi Webster.

Jong paartjies uitmekaar; maak vrede

Vanessa Hudgens en Austin Butler. (Foto: Instagram)

Vanessa Hudgens en Austin Butler. (Foto: Instagram)

Austin Butler (28), die akteur wat te sien is in die Oscar-benoemde rolprent Once upon a time in Hollywood, en sy meisie van die afgelope nege jaar, die aktrise Vanessa Hudgens (31), is uitmekaar.

Die paartjie het in 2011 begin uitgaan. Hudgens is tans in Skotland om te skiet aan die nuwe fliek, The Princess Switch 2, terwyl Butler in Australië werk aan regisseur Baz Luhrmann se nuwe Elvis Presley-fliek.

Volgens Cosmopolitan het die paartjie aangevoer dat die afstand tussen hulle die rede is vir die beëindiging van hulle verhouding.

Intussen is die model Gigi Hadid (24) en die One Direction-sanger Zayn Malik weer herenig. Dié paartjie het in 2018 uitgemaak en het onlangs Malik se 27ste verjaarsdag saam in New York gevier.

Zayn Malik en Gigi Hadid by die Metropolitan Museum of Art Costume Institute Benefit Gala in New York. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Hadid se suster, Bella, haar broer, Anwar, haar ma, Yolanda, asook Anwar se meisie, die sangeres Dua Lipa, het die verjaarsdagviering bygewoon.

Die nuus dat die paartjie weer saam is, is vandeesweek aan E! News bevestig. “Gigi en Zayn het voor die Desembervakansie herenig,” het ʼn bron aan E! News gesê.

“Gigi het besluit om hom nog ʼn kans te gee nadat hy na haar uitgereik het. Sy is nog altyd lief vir hom en ʼn breuk tussen hulle was nodig. Zayn werk aan sy musiek en sy gesondheid en is tans op ʼn goeie plek.”

Miss Americana eersdaags op Netflix

Die bekroonde sangeres en liedjieskrywer Taylor Swift se Netflix-dokumentêr, Taylor Swift: Miss Americana, word op 31 Januarie uitgereik.

Die dokumentêr première op 23 Januarie tydens die Sundance Festival. Die dokumentêr handel oor Swift se suksesvolle loopbaan tot dusver en bied ʼn blik op haar lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ai tog ·

Sjoe dié … 21jarige miljardér se museum …almal se verhoudinge wat nie uitwerk, die oscartjie en sowaar bloedjonk en in die lewe nog maar miss americana TS, wil haar sukses en loopbaan noual uitrafel? Wag …daars mos nóg dinge of hoe? Verstaan Sonja Herholt wat al ken van…wat in week gesê het WAG ek wil nog eers ( loopbaan en sukses) ens heelwat nog doen bereik, solànk ek toegelaat word vóór ek museum toe. Blaas beuel aan einde, ja.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.