Hoe lyk Hollywood: Sterre rou oor Floyd; Kylie Jenner in geskil oor rykdom

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Hollywood rou oor George Floyd

ʼn Betoger bedek ʼn muur met graffiti in Minneapolis. (Foto: John Minchillo, AP)

Die dood van George Floyd, die swart man wat aan die hand van ʼn wit polisieman gesterf het, het vandeesweek ʼn wêreldwye hermobilisering van die #blacklivesmatter-beweging en talle protesoptogte tot gevolg gehad.

Sedert beeldmateriaal aan die lig gekom het waar die polisieman, Derek Chauvin, vir etlike minute op Floyd se nek sit ten spyte daarvan dat hy herhaaldelik gesê het hy kan nie asem kry nie, het feitlik elke bekende persoon in Hollywood op sosiale media uitgevaar teen die voorval en rassisme teenoor swart mense in die wêreld, en veral die VSA.

Terwyl gewelddadige protesoptogte reg oor dié land begin opvlam het, met winkels wat oral oor geplunder word, is die room van Hollywood dit eens dat hulle dié beweging ondersteun. Die vier polisiemanne wat in die Floyd-voorval betrokke is, insluitend Chauvin, is intussen in hegtenis geneem.

Talle inskrywings, asook ‘n #blackouttuesday-hutsmerkbeweging saam met grafika wat slegs ʼn swart blok is en wat veral op Instagram versprei is, is vandeesweek op sosiale media gemaak.

Lady Gaga. (Foto: Jordan Strauss, AP)

Sterre soos The Weeknd, Chrissy Teigen en haar man, die sanger John Legend, het miljoene dollars geskenk aan verskeie Black Lives Matter-veldtogte, terwyl groot name soos Lady Gaga, Kate Hudson, Kerry Washington, Reese Witherspoon en Jennifer Aniston ook hulle steun aan dié beweging getoon het.

“Die stemme van die swart gemeenskap is vir te lank stilgemaak en dit is weer en weer bewys dat die stilte dodelik is,” het Lady Gaga in ʼn Instagram-plasing geskryf.

“Ek moedig mense aan om sagkens met mekaar te praat, om te praat met passie, inspirasie en om die belangrikheid van hierdie kwessie te benadruk totdat die stelsels wat ons siek hou, doodgaan, in plaas van die mense vir wie ons lief is.”

Kylie Jenner, Forbes in geskil oor miljardêr-status

Kylie Jenner (Foto: Instagram)

Kylie Jenner, dogter van Kris Jenner en halfsuster van die bekende Kardashians, is die hoogs betaalde bekende ter wêreld. Volgens Forbes het sy van Junie 2019 tot Mei 2020 $590 miljoen (sowat R10 miljard) voor belasting verdien.

Dit kom nadat Forbes vroeër vandeesmaand berig het dat Jenner voorheen glo gejok het oor haar rykdom nadat sy in Maart verlede jaar op die ouderdom van 21 as die jongste selfgemaakte miljardêr ter wêreld aangewys is.

Forbes het egter nou dié titel herroep en sê Jenner het oordryf oor die sukses van haar kosmetiese maatskappy, Kylie Cosmetics. Dié maatskappy se bemarking word hoofsaaklik deur sosiale media gedoen en hoewel Jenner al opwipwinkels vir Kylie Cosmetics gehad het, is daar nie ʼn bestaande winkel vir die handelsmerk nie en word verkope eerder aanlyn gedoen.

Jenner bemark haar produkte direk aan haar 179 miljoen sosialemediavolgelinge. Haar uitgawes is dus minimaal en haar inkomste groot.

Jenner het op Twitter uitgevaar teen die tydskrif se beskuldigings deur te sê die tydskrif het vals verklarings en onbewese aannames gepubliseer.

“Ek het nooit vir die titel gevra of myself daarin probeer lieg nie. Nooit nie, punt,” het sy geskryf.

Forbes hou egter voet by stuk en sê hulle uitgebreide ondersoek is van stapel gestuur nadat dokumente, wat onlangs ingedien is en wat onduidelikhede tussen die private inligting aan joernaliste en inligting wat aan aandeelhouers verskaf is, onthul is.

“Ons verslaggewers het die onakkuraathede raakgesien en maande lank die feite bloot gelê,” het Forbes gesê.

Bronne: Insider.com, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Hulle sal sekerlik hulle kastele en blink juwele en spogmotors met graagte skenk aan die blm beweging en in ‘n woonwa park intrek ? Nes die voorbeeld wat hul kader vriende in die ashoop gaan stel of hoe ?

Stephanie ·

Sterre “rou” oor Floyd???? Regtig??? N krimineel wat tydens arrestasie sterf word n internasionale smart-held terwyl sy dwelm en verkragtingslagoffers se name nie eens bekend is nie. Terwyl hordes wit SA’ners koelbloedig vermoor en blatant aangerand en beroof word maar die polisie nooit n misdadiger aankeer wat enigiets meer krimineel doen as om Kopdoek se reëls te verontagsaam nie.

minnie muis ·

ek lees hy was nie egenltjie nie…..was hoog op drugs…..nou skielik is hy a saint

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.