Hoe lyk Hollywood: Steve Irwin se dogter trou; Kardashian-suster stuit seun op sosiale media

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Steve Irwin se dogter trou

Bindi Irwin het dié troufoto gedeel. (Foto: Instagram/Bindi Irwin)

Bindi Irwin, die 21-jarige dogter van die ontslape Australiese natuurbewaarder en televisiepersoonlikheid Steve Irwin is getroud.

Bindi, wat in die voetspore van haar bekende pa volg as natuurbewaarder, en Chandler Powell (23), het Woensdag bekend gemaak dat hulle in die eg verbind is.

Die paartjie is getroud in die Australia Zoo in Queensland, wat gestig is deur haar grootouers in die 1970’s en steeds deur die Irwin-familie bestuur word.

Aangesien die Irwin-familie saam by die dieretuin woon, was dit moontlik vir haar ma, Terri, en broer, Robert, om die seremonie by te woon ten spyte van die afsonderingsmaatreëls wat in Australië ingestel is as gevolg van die uitbreking van die korona (Covid-19)-virus.

“Ons het ʼn klein seremonie gehad en ek is met my beste vriend getroud. Daar is nie woorde om die liefde en lig in my hart te beskryf nie. Ons het hierdie pragtige dag vir byna ʼn jaar beplan en moes alles verander, aangesien ons geen gaste gehad het nie,” het sy gesê.

Steve Irwin, alombekend as die Crocodile Hunter, is in 2006 in die ouderdom van 44 dood nadat ʼn pylstertvis sy bors deurboor het tydens die verfilming van ʼn dokumentêr.

Kardashian-suster stuit seun op sosiale media

Kourtney Kardashian. (Foto: Instagram/Kourtney Kardashian)

Kourtney Kardashian (40), een van die bekende Kardashian-susters, het onlangs haar tienjarige seun Mason se Instagram-rekening gedeaktiveer omdat sy glo hy nog te jonk is vir dié sosiale media platform.

Die werklikheidstelevisiester, wat self 88,5 miljoen volgelinge op haar Instagram-profiel het, het Woensdag in ʼn regstreekse video gesê Mason het ʼn Instagram-rekening vir homself geskep sonder haar en sy pa, Scott Disick, se toestemming.

“Ek het sy profiel uitgevee want ek en Scott het net gevoel … hy is tien. Ek dink daar is ʼn ouderdomsbeperking met Instagram,” het sy gesê. Instagram se ouderdomsbeperking is 13.

“Wat my die meeste pla wat kinders op sosiale media betref is die kommentaar. Mense kan regtig gemeen raak en dit is regtig maklik om daardeur ingesluk te word. Ek voel net die tyd is nog nie reg nie,” het Kardashian bygevoeg.

Kardashian en Disick, wat nooit getroud is nie en ook nie meer in ʼn verhouding is nie, is die ouers van Mason, Penelope (7) en Reign (5).

Ariana Grande se nuwe, ‘doodgewone’ kêrel

Die internet gons oor Ariana Grande se nuwe kêrel, die eiendomsagent Dalton Gomez. (Foto: Twitter/Page Six)

Die internet gons behoorlik oor die popsangeres en aktrise Ariana Grande se sogenaamde “doodgewone” kêrel.

Die 26-jarige popster, wat gereeld nuusopskrifte haal met haar onstuimige liefdeslewe en bekende kêrels, se nuwe kêrel is glo die eiendomsagent Dalton Gomez.

Volgens Page Six is Gomez deel van die Aaron Kirman-eiendomsgroep, wat fokus op luukse eiendomme wat miljoene werd is.

Grande was voorheen in verhoudings met die kletsrymer Big Sean en die ontslape musikant Mac Miller en was in 2018 vir vier maande verloof aan Pete Davidson, die komediant en Saturday Night Live-akteur.

Bronne: CNN, Today.com, Page Six

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.