Hollywood: Meghan Markle sluit groot Hollywood-kontrak; popster sê jammer oor uitlatings oor onderwys

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Meghan Markle sluit gesogte Hollywood-kontrak

Meghan Markle, die hertogin van Sussex. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Meghan Markle, die hertogin van Sussex en vrou van die Britse prins Harry, het pas ʼn kontrak met een van die wêreld se gesogste talentagentskappe gesluit.

William Morris Endeavour (WME) verteenwoordig ook groot name soos die akteur Dwayne ‘The Rock’ Johnson en die tennisster Serena Williams. ʼn Hele rits ander A-lys-name word ook deur WME verteenwoordig.

Meghan sal egter nie voor die kameras besig wees nie, maar eerder haar rol as vervaardiger van die maatskappy, Archewell, inneem. Sy en prins Harry het dié produksiemaatskappy saam gestig.

Prins Harry en Meghan Markle. (Foto: Skermgreep/Netflix)

Sedert die maatskappy gestig is, het twee dokumentêre reekse onder die Archewell-vaandel reeds die lig gesien, insluitend Harry & Meghan, ʼn Netflix-treffer.

Voordat Meghan met prins Harry getroud is, het sy naam gemaak in Hollywood as ster van die dramareeks, Suits.

Meghan het onlangs weer die wêreld se tonge los gehad nadat dit bekendgemaak is dat sy nie volgende naweek koning Charles III se kroning in Brittanje gaan bywoon nie. Dit is intussen bevestig dat Harry die kroning alleen sal bywoon.

James Corden-geselsprogram kom amptelik tot ’n einde

James Corden. (Foto: Dia Dipasupil/Getty Images/AFP)

Die Britse geselsprogramaanbieder, James Corden, se program, The Late Late Show with James Cordon, het Donderdagaand amptelik tot ʼn einde gekom.

Will Ferrell en Harry Styles was James se laaste gaste, en Adele die laaste passier vir James se kenmerkende Carpool Karaoke-reeks.

Die laaste Crosswalk Musical, ʼn ander gewilde insetsel van die program, sal saam met Josh Gad en Jane Krakowski op die “planke” gesit word.

Hy sluit die program met dankbaarheid af, vertel James. “Ek dink ek gaan vir die volgende ruk stil wees. Dit was ʼn luidrugtige agt jaar!”

Popster in die sop ná uitlating oor onderwysers

Meghan Trainor en haar man, die akteur Daryl Sabara, saam met hulle seun, Riley. (Foto: Meghan Trainor/Instagram)

Meghan Trainor, die blondekop popsangeres, is in die sop oor ʼn uitlating wat sy oor onderwysers gemaak het tydens ʼn podsending saam met die omstrede internetpersoonlikheid, Trisha Paytas.

Meghan, haar man, die akteur Daryl Sabara, en haar boetie, Ryan Trainor, het vroeër vanjaar vir Trisha verwelkom om op hul podsendingreeks, Workin’ on it, oor ouerskap te gesels.

Trisha en haar man, Moses Hacmon, het in September hul eersteling verwelkom terwyl Meghan en Daryl reeds die ouers van ʼn tweejarige seuntjie, Riley, is en tans nog ʼn seuntjie verwag.

In die betrokke episode het hulle oor skole en onderwys gesels, en ná ʼn geredekawel het Meghan die uitlating “F*k onderwysers” gemaak.

Meghan Trainor in 2022. (Foto: Lisa O’Connor/AFP)

Dié uitlating het die ganse wêreld aan die gons en het Meghan genoodsaak om ʼn video op TikTok te laai waarin sy om verskoning vra.

“Onderwysers van TikTok, en onderwysers van die wêreld,” het Meghan die video begin voordat sy verduidelik het dat hulle eintlik gepraat het oor hoe gruwelik dit is vir Amerikaners om hul kinders na skole toe te stuur waar kinderveiligheid weens die hoeveelheid massaskieterye wat daar plaasvind, nie gewaarborg kan word nie.

Sy het ook verduidelik dat dié stelling eintlik glad nie op alle onderwysers gemik was nie, maar op die onderwysers wat haar en haar man as kinders geboelie het.

“Ek is lief vir onderwysers, ek veg vir onderwysers. Ek dink dat hulle onderbetaald is en dan nog ons almal grootgemaak het ook,” het sy verder verduidelik.

“Ek wil nie verskonings maak nie, ek is net só jammer.”

Kardashian-susters se drama eersdaags weer op die kassie

Kourtney, Kim, Khloé, Kendall en Kylie is eersdaags terug op die kassie in die derde seisoen van die Hulu-werklikheidsreeks, The Kardashians.

Dié reeks volg die lief en leed van die Kardashian-gesin en hulle uitgebreide familie. In hierdie seisoen sal kykers ʼn blik kry op Kim en Kourtney se bekgevegte oor gesteelde kollig tydens Kourtney se troue met die rocker Travis Barker.

Kim tel ook weer die stukke op nadat haar pad met die akteur Pete Davidson geskei het. In die lokprent kan kykers sien hoe Kim emosioneel raak wanneer Khloé haar vra of sy oukei is nadat haar romanse met dié akteur beëindig is.

Kykers sien ook hoe Kylie vir haar susters sê dat hulle waaksaam moet wees oor die skoonheidstandaarde wat hulle vir die wêreld stel.

Kyk hier na die lokprent vir seisoen 3 van The Kardashians:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.