Hollywood: Weinstein pleit weer onskuldig; prins Harry skryf memoir

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Weinstein pleit weer onskuldig

Harvey Weinstein in Februarie 2020. (Foto: John Minchillo, AP)

Harvey Weinstein, die Amerikaanse rolprentvervaardiger, het weer onskuldig gepleit op aanklag van verkragting en seksuele aanranding in ʼn Los Angeles-hof.

Hy het in ʼn rolstoel in die hof verskyn. Hy dien tans ʼn vonnis van 23 jaar uit vir soortgelyke oortredings in ʼn tronk in New York.

Die 69-jarige Weinstein word deur 11 aanklagte van seksuele aanranding, wat spruit uit voorvalle met vyf vroue, in die gesig gestaar.

Hy hou egter vol hy is onskuldig en sê alle seksuele aktiwiteite was met instemmig.

Die voorvalle het glo tussen 2004 en 2013 in hotelle in Beverly Hills en Los Angeles plaasgevind. Indien hy skuldig bevind word, kan Weinstein ʼn maksimum vonnis van 140 jaar tronkstraf opgelê word.

Weinstein het in ʼn bruin tronkoorpak en ʼn gesigmasker slegs gepraat om “dankie” te sê aan regter Sergio Tapia nadat sy hom “sterkte” toegewens het.

Volgens sy prokureur is die aanklagte nie geloofwaardig nie. “Daar is geen grond [daarvoor] nie, is van lank gelede en is ongestaaf,” het Mark Werksman na afloop van die verhoor gesê.

Weinstein appelleer teen verlede jaar se skuldigbevinding in New York.

Meer as 80 vroue het hom van seksuele wangedrag aangekla, met sommige van die aantygings wat dekades gelede plaasgevind het.

Aantygings wat reeds in 2017 aan die lig gekom het, het gespruit uit die #MeToo-beweging, wat mense aangemoedig het om ervarings met seksuele teistering en aanranding te deel.

Tydens die verhoor het Werksman versoek dat die voormalige Hollywood-grootkop vir ʼn mediese ondersoek gestuur word.

“Hy word blind in sy een oog,” het hy aan verslaggewers gesê.

Weinstein het verskeie flieks vervaardig insluitend Shakespeare in Love, wat ʼn Oscar-toekenning vir beste rolprent in 1999 ingeoes het.

Prins Harry skryf memoir

Prins Harry (Foto: Instagram via @sussexroyal)

ʼn Memoir deur prins Harry, hertog van Sussex, sal laat volgende jaar deur Penguin Random House gepubliseer word, het die uitgewer Maandag aangekondig.

Die uitgewer het bygevoeg dat die boek “vir die eerste keer” Harry se “duidelike vertelling van die ervarings, avonture, verliese en lewenslesse wat hom gevorm het” sal weergee.

“Ek skryf dit nie as die prins wat ek gebore is nie, maar as die man wat ek geword het,” het prins Harry Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Ek is diep dankbaar vir die geleentheid om te deel wat ek geleer het oor die verloop van my lewe tot dusver en ek is opgewonde daaroor dat mense ʼn eerstehandse weergawe van my lewe, wat akkuraat en ten volle die waarheid is, kan lees.”

Die prins gaan die inkomste van die boek aan liefdadigheid skenk, het Penguin Random House gesê.

Hy en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, het nuushooftrekke wêreldwyd gehaal met hul besluit vroeg verlede jaar om uit te tree as koninklikes en na die VSA te verhuis.

Die egpaar het in Kalifornië nesgeskrop. Hulle het ook in September ʼn produksieooreenkoms met Netflix gesluit. Dit sluit ʼn geskrewe reeks, ʼn dokumentêre reeks en kinderprogramme in.

Hulle het in April hul eerste Netflix-projek, Heart of Invictus, aangekondig.

Bronne: BBC, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Miskien kan hy en Zuma penvriende wees want Zuma is ook onskuldig. Hulle kan dan by mekaar kerm.

Rian ·

Weinstein, epstein en al hulle ander maatjies, van gewese presidente tot konikles, is so skuldig as wat jy kan kry. Maar ontken, ontken, ontken, en hoop alles word vergeet.

VaalDonkie ·

Lyk my jy kannie mense vertrou wat -stein in hulle vanne het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.