Jan Bloukaas: ‘God hou my nog regop’

Jean du Plessis, oftewel Jan Bloukaas. (Foto: verskaf)

Ná ses weke van bestraling, 1 567 pille en talle gebede het die sanger Jean du Plessis, oftewel Jan Bloukaas, sy eerste rondte chemoterapie vir breinkanker voltooi.

Hy het die gesondheidsmylpaal Vrydag saam met vriende, familie en die personeel van Netcare N1 se City Hospital gevier en ʼn video daarvan op sy Facebook-blad gedeel.

“Die personeel is fantasties en het bygedra tot my positiewe ervaring van die behandeling.

“Dit kon soveel anders verloop het sonder die simpatieke personeel. Hulle lag saam met jou en huil saam met jou en is elke tree van die pad langs jou.”

Die “Kaas bra”-sanger het vroeër vanjaar bekend gemaak dat hy met breinkanker gediagnoseer is.

“Ek het so ’n vae gevoel gehad iets ernstigs is fout met my, maar ek kon nie regtig sê wat ek voel en dit in woorde uitdruk nie,” het Jean aan Maroela Media vertel.

“Die diagnose het net my voorgevoel bevestig en gelukkig was my ouers by my om dit makliker vir my te maak.”

Alhoewel die diagnose ’n skok vir Jean was, het hy tog berusting daarin ook gevind.

Jean se ma, Ronelle, erken dat hoewel die diagnose vir die hele gesin moeilik was, het die verloop van tyd elke struikelblok en terugslag makliker gemaak. Jean se onwrikbare geloof is ook tasbaar in alles wat hy aanpak, iets wat Ronelle en die gesin rustig laat voel oor die reis waarop hulle is.

“Hy bly positief en aanvaar sy lot,” het Ronelle vertel.

“Ons as ouers is vreeslik dankbaar, as hy opstandig was daaroor sou dit vir ons baie moeiliker gewees het.”

Die behandeling was straf, erken Jean. Hy het die dae getel totdat hy uiteindelik daarmee sou klaar wees. Tog beskryf hy dit as een van die mees verrykende ervaringe van sy lewe.

“Ek weet nou waartoe ek liggaamlik in staat is deur die krag van die Here.

(Foto: verskaf)

“Ek het al in die eerste week opgegee en God hou my nou nog aan my kraag regop.”

Te midde van sy kankerstryd, reik Jean steeds nuwe musiek uit. Ten tyde van sy diagnose, was sy nuwe album byna heeltemal klaar – hy moes nog net ’n paar liedjies se stemgedeeltes opgeneem het.

Hy het sy diagnose ontvang op die einste dag waarop hy dié opnames moes gaan doen.

“Ek moes dit kanselleer. Ek het teruggevlieg Kaap toe [waar hy tans saam met sy ouers woon] om my behandeling te begin.”

Vir ’n ruk wou hy nie voortgaan met die album nie, erken Jean.

Hy het egter die laaste opnames in die Kaap klaargemaak en is vandag dankbaar dat hy voort kan gaan om musiek uit te reik.

“Dit sou vir my gevoel het soos tou op gooi en dis glad nie wie ek is nie.”

Jean beskou homself immers as ’n persoon wat die glas altyd as halfpad vol sien.

Alhoewel musiek sedert sy diagnose ’n minder belangrike rol in sy lewe speel, sien hy daarna uit om sy nuwe musiekstyl ten toon te stel.

  • Jean se jongste enkelsnit, “As ek jou hoor lag”, word Vrydag 25 November uitgereik.
  • Kyk hier na die video wat Jan Bloukaas met sy aanhangers gedeel het:

6 weke van bestraling en chemo agter die rug. 1567 pille gesluk in die 6 weke en baie gebid! Dankie aan die amazing span by N1 Netcare Oncology. Julle is die beste ❤️ aan my ouers: mamma en pappa het my regtig gedra deur hierdie tyd en ek sal dit nooit ooit terug kan betaal nie. Ek is baie lief vir julle. Alle eer aan God!!!! Ek het al week 1 opgegee en God hou my nou nog by my kraag op. Volgende week release ek 'n nuwe liedjie! Over and out. ❤️

Posted by Jan Bloukaas on Friday, November 18, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Corne ·

Ek is baie bly dit gaan goed met hom en dat hy so positief is. Alle lof en eer aan Ons Vader.

GMB ·

Jean, ek is self deur ‘n kanker reis. Net met God se genade kan jy hier deur kom. Hou vas aan Hom en weet God is in beheer. Alle eer aan God dat dit goed gaan met jou. Sterkte met jou kanker reis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.