John Kani met eredoktorsgraad vereer

Dr. John Kani.

Dr. John Kani.

Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur, regisseur en dramaturg dr. John Kani word vanjaar met ʼn  eredoktorsgraad deur die Universiteit Stellenbosch vereer.

Kani ontvang op Vrydag 13 Desember ʼn eredoktorsgraad in wysbegeerte (DPhil honoris causa) vir sy uitnemende bydrae in sy loopbaan van 50 jaar in die uitvoerende kunste en as dramaturg.

Hy word ook vereer vir sy onwrikbare toewyding om te verseker dat jong mense toegang tot die uitvoerende kunste het en vir sy gebruik van die kunste as ʼn instrument vir onderwys, gemeenskapsontwikkeling en om die onderdruktes hoorbaar te maak.

Kani het in 1985 saam met die bekroonde Afrikaanse aktrise Sandra Prinsloo opslae gemaak toe hulle saam in Miss Julie gespeel het – ʼn toneelstuk waarin ʼn wit vrou ʼn swart man verlei. Kani en Prinsloo het tonge laat klap toe hulle in dié toneelstuk die eerste soen tussen ʼn swart man en ʼn wit vrou op die verhoog in die apartheidsera gedeel het.

Kani is die skrywer en regisseur van talle verhoogtekste.

Van sy mees onlangse internasionale rolprentsuksesse as akteur sluit in Black Panther (2018), The Lion King (2019) en Murder Mystery (2019).

Hy is ook in Februarie vanjaar, by die negende kykNET Fiësta-toekennings, vereer vir sy  lewensbydrae tot teater.

Regstreekse uitsending: Al die US-gradeplegtighede kan regstreeks op die internet gevolg word by www.sun.ac.za/streaming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.