Katryn Kruger oor die definisie van skoonheid

Katryn Kruger (Foto: Instagram via @margueritevaneeden_photography)

Jare lank het sy van die grootste name in die modewêreld op die loopplank verteenwoordig. Sy het in tydskrifte soos Vogue, Harpers Bazaar en Elle verskyn en wanneer ander kinders van haar ouderdom oor naweke saam gekuier het, het sy die wêreld vol rondgerits.

Katryn Kruger (25) is een van Suid-Afrika se grootste suksesstories as dit by modelwerk kom. Op die ouderdom van 15 is sy in ʼn winkelsentrum deur ʼn agent genader en ʼn paar maande later het sy ʼn kontrak geteken met IMG, die grootste modelagentskap ter wêreld, wat ook modelle soos Gigi Hadid, Bella Hadid, Kate Moss en Giselle Bünchen verteenwoordig.

Wat ander modelle ʼn hele loopbaan kan vat om te bereik, het Kruger in slegs ses maande reggekry.

Maar vir Kruger het haar sukses nie sonder opofferings en moeilike tye gekom nie. Kruger vind deesdae vrede in ʼn meer vreedsame leefwyse, haar man, vriende en familie na aan haar en projekte wat sy aanpak om vroue te help om goed oor hulself te voel.

“Ek het grootgeword in die Kaap in ʼn tipiese Afrikaanse huis saam met my ma, pa, boetie en twee honde. My oupa het geboer en Desember het ons in Hartenbos vakansie gehou. Ek was lief vir skool en netbal en my plan was om joernalistiek te gaan studeer.

“Modelwerk was nooit in my verwysingsraamwerk nie; dit was nie iets wat ek gaan soek het nie.”

Kruger vertel dat sy grootoog by die IMG-oudisie aangekom het toe sy sien al die ander (meer ervare) modelle het almal ʼn denimbroek, swart hemp en hakskoene aan, terwyl sy self ʼn somerrokkie en sandale gedra het.

Katryn op die looppank vir Dolce and Gabbana

“Ten spyte van my sandale en woeste krulle, was hulle mal oor my en het hulle my genooi na hul agentskap in Parys, Frankryk. In die Junie-skoolvakansie is ek en my ouers oorsee om hulle te ontmoet. Daar het ek my derde werk ooit as model gedoen vir Prada, een van die topmodehuise in die bedryf.”

Kruger sê haar gr.10-skooljaar was rof aangesien sy van Maandag tot Vrydag ʼn gewone skolier was, maar oor naweke het sy Parys toe gevlieg om modelwerk te doen, en dan was sy Maandag terug op die skoolbanke.

Op die ouderdom van 16 het sy haar eerste modevertoning gedoen tydens die Parys Modeweek toe sy op Givenchy se loopplank geloop het.

Na die Parys Modeweek was haar naam op almal se lippe en het sy en haar ouers saam besluit dat sy skool gaan verlaat nadat sy gr.10 voltooi het sodat sy voltyds modelwerk kan doen.

“Van daar het ek die wêreld vol gereis, groot veldtogte geskiet, tydens modeweke meer as 60 modevertonings gestap en vir al die groot modetydskrifte soos Vogue, Harpers Bazaar, Elle, Marie Claire en nog vele meer geskiet.”

Katryn op die voorblad van Vogue

Kruger het wel op ’n stadium tyd ʼn blaaskans van modelwerk gevat om skool klaar te maak.

Deesdae is Kruger meer daarop gefokus om ander vroue te bemagtig omdat sy weet hoe dit voel om afgebreek te word en om op jou voorkoms getakseer te word. Sy het sedertdien opgehou om loopplankwerk te doen, maar sy reis steeds gereeld na plekke soos New York, Parys en Sydney vir werk.

Sy het verskeie projekte van stapel gestuur soos Koffie met Katryn waar sy vroue aanmoedig om hul harte oop te maak en na mekaar te luister, en Vier jou Vrouwees-fotosessies wat vroue bemagtig deur hulle goed oor hulself te laat voel en hul selfvertroue op te bou.

“Met my werk word my hare en grimering op amper ’n daaglikse basis gedoen en ek is gewoond daaraan om voor die kamera te wees. Ek weet hoe bemagtigend dit kan wees om ’n mooi foto van jouself te sien, veral in ’n tyd waar ons as vroue sukkel met ons selfbeeld, grotendeels as gevolg van sosiale media.”

Koffie met Katryn (Foto: Instagram)

Die Vier jou Vrouwees-fotosessies is ʼn geleentheid waar vroue bederf word met ʼn professionele mooimaak-span, ʼn modestilis en ʼn professionele fotosessie met Kruger wat hulp bied om gemaklik agter die kamera te wees.

“Dit gaan daaroor om vir vroue te wys hulle ís waardig, hulle ís mooi en hulle ís spesiaal. Dit gaan nie oor die grimering of die mooi haarstyl of eens die foto’s nie. Dit gaan oor die tyd neem vir haarself, die omringwees deur vroue wat haar aanmoedig en inspireer, en die selfvertroue wat kom met glo in haarself,” sê Kruger.

Die Vier jou Vrouwees-fotosessies samel ook geld in vir slagoffers van geweld teen vroue en kinders.

Tydens ‘n Vier jou Vrouwees-fotosessie (Foto: Verskaf)

“Sowat 10% van elke kaartjie wat gekoop word, word aan ’n organisasie geskenk wat hiermee help. Vir Vrouemaand het ons 100% van elke kaartjie geskenk en kon ons R3 000 aan Huis Jabes in Bellville gee,” sê Kruger.

Kruger sê sy was ook op ʼn tyd in haar lewe baie eensaam en selfbewus, maar dat sy nou weet dat skoonheid nie selfliefde kan koop nie.

“Skoonheid het niks te doen met selfliefde nie, en enige model kan vir jou kan sê dat ons eintlik ʼn swakker selfbeeld het juis oor die aard ons beroep. As model word jy gekritiseer oor jou voorkoms – iets waaroor jy nie veel beheer het nie. Daar word voor jou gepraat oor jou, die dinge waaroor jy dalk reeds sleg voel oor jouself word vir jou uitgewys, jou waarde en hoeveel geld jy verdien word direk gemeet aan hoe jy lyk.”

Kruger sê sy het in die piek van haar loopbaan, toe sy vir name soos Dior, Prada en Oscar de la Rente modelwerk gedoen het, die slegste oor haarself gevoel.

Dit was eers toe sy tyd aan haarself afgestaan het en haarself weer leer ken het en besef het wie presies Katryn Kruger is, wat sy haarself begin liefkry het.

Katryn saam met haar man, Cilliers (Foto: Instagram)

Vandag is Kruger se definisie van skoonheid heeltemal anders as vantevore en hoop sy om ander vroue te inspireer om mooi na hulself te kyk en goed oor hulself te voel.

“Selfliefde is ’n vrou wat haarself ken, die goed en die sleg, en haarself liefhet nie ten spyte daarvan nie, maar as gevolg daarvan. Dit is ’n vrou wat haar waarde nie meet aan titels of aardse dinge nie, maar aan haar eie menswees en eie waardes. ’n Vrou is vir my mooi as jy sien sy het die werk ingesit om haarself te leer ken en haarself lief te hê, en so haar unieke menswees met trots kan dra soos ’n luukse parfuum.”

Vir meer inligting oor Katryn se projekte, besoek haar Faceboook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.