Video: Kry só ʼn persoonlike video van jou gunsteling-bekende

Bryan Habana (Foto: Facebook)

Hoe lekker sou dit nie gewees het om ʼn video-boodskap van jou gunsteling musikant, televisiepersoonlikheid of sportster te ontvang nie? En nou is dié droom ‘n werklikheid met die splinternuwe myFanPark-platform.

Dié webtuiste wat pas bekendgestel is, het reeds meer as 70 bekendes soos Bryan Habana, Lee Thompson, Lianie May, Francois van Coke, Casper de Vries, Emo Adams en Faf de Klerk aan boord wat gereed staan om vir jou ʼn video-boodskap te stuur.

myFanPark is die geesteskind van Wouter Lombard en Dylan en Joy Des Fountain.

“Ek het verlede jaar die idee begin kry toe ek vir my haarkapper ʼn video gestuur het van ʼn haarkapper in Portugal wie hy vreeslik bewonder. Hy was in ekstase en kon nie glo die man het vir hom ʼn video gestuur nie,” vertel Lombard.

“Ek het toe begin navorsing doen en uitgevind of daar ʼn mark is vir so iets in Suid-Afrika. En hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe meer het dit duidelik geraak dat daar wél ʼn mark is hiervoor.”

myFanPark werk só dat aanhangers hul gunsteling-bekendes kan vra om ʼn persoonlike boodskap aan iemand of aan hulself te stuur. Die bekendes besluit self op die prys van die video en dit word dan aan jou gestuur op WhatsApp of via e-pos.

Francois van Coke (Foto: Andre Badenhorst/Instagram)

“Al die bekendes kry hierdie soort versoeke en hulle weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie. Want as jy ʼn bekende is, is jou naam tog jou inkomste, so hulle moet daarvoor vergoed word. Die bekendes wil ook nie altyd hulle persoonlike inligting uitgee nie, so myFanPark is ʼn goeie verbintenis tussen die aanhanger en die bekendes,” sê Lombard.

myFanPark maak dit ook makliker vir aanhangers wat dalk nie weet hoe om hul sporthelde of musieksterre te nader om steeds iets persoonlik by hulle te kry nie.

MyFanPark skenk ’n deel van elke video se opbrengs aan die Rooikruis Kinderhospitaal of Laureus Sport for Good. Die bekende kan ook self besluit hoeveel van die totale bedrag na dié organisasies toe gaan.

“Die bekendes ken hul aanhangers en mark baie beter as ons, daarom het ons dit in hulle hande gelaat om te besluit hoeveel mense moet betaal en hoeveel hulle vir liefdadigheid gee. Daar is ook van hulle wat besluit om meeste of al die geld vir liefdadigheid te gee,” sê Lombard.

Emo Adams (Foto: Facebook)

Lombard sê dié platform laat mense toe om interaksie te hê met die mense wat hulle die meeste inspireer. En dit is wat hom opgewonde maak daaroor: Dat dit ʼn positiewe impak op iemand se lewe kan hê.

“Daar is baie mense wat vra vir ʼn verjaardagboodskap of net ʼn hallo-boodskap, maar dit is daardie spesiale boodskappe van aanmoediging en van hoop gee, wat vir ons baie belangrik is,” sê hy.

“Soos byvoorbeeld, as ʼn kindjie hospitaal toe moet gaan en bang is kan iemand, wie die kind bewonder, hom of haar moed inpraat. Of as ʼn seun Saterdag ʼn groot wedstryd gaan speel, kan sy gunsteling-rugbyspeler vir hom sterkte toewens. Dit maak ʼn spesiale oomblik net nog meer spesiaal.”

Ander bekendes wat deel is van hierdie platform is Jesse Kriel, Adam, Andre Schwartz, Christia Visser, Danny K, David Louw, Eben Etzebeth, Heinz Winckler, John Smit en Jean de Villiers.

Vir meer inligting besoek die myFanPark webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KrokodilBotha ·

Hoe ver val die mensdom nou al. Regtig, is daar enige wat belangstel in die snert.

Piet ·

Wat van melama sign hom ook ek maar ek sal graag n boodskap vir hom wil stuur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.