Luister: Sanger, skrywer Tobi Jooste maak nou heerlike kortpadkos

Tobi Jooste kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

Tobi Jooste is ʼn ou hand as dit kom by sing en skryf, maar nou is hy ook die trotse skrywer en samesteller van ʼn splinternuwe kookboek, Daar’s ʼn man in my kombuis.

Die sanger, wat in 2013 ʼn trefferroman met die titel, Daar’s ʼn Eiffeltoring in sy boedel, die lig laat sien het, vertel in Maroela Media se ateljee met sy swaar Karoo-aksent hoe hy van kleintyd af reeds lief was vir kook, maar nooit gedink het hy sal ʼn kookboek uitgee nie.

As die oudste van twee seuns het hy op sy grootword-plaas tussen Loxton en Victoria-Wes vroeg-vroeg al geleer as jy ʼn soetdingetjie wil hê, moet jy dit self maak.

“Of, as die telefoon lui terwyl jy verby die kombuisdeur hardloop, word jy sommer nader geroep om die kospotte te kom roer, al kan jy byna net-net in die pot sien,” vertel Tobi, wat deesdae in Northcliff, Johannesburg, woon.

“Ek het grootgeword onder my ma en ouma se invloed, wat ons altyd toegelaat het om in die kombuis te help.”

Daar’s ʼn man in my kombuis se resepte bestaan elkeen slegs uit drie bestanddele. Tobi vertel hy het doelbewus besluit om elke resep met slegs drie bestanddele te maak.

“Dit was ʼn uitdaging, maar daar was ʼn paar faktore wat ek in ag geneem het: Die eerste faktor is ekonomies. Dit is duur om kos te maak en nie almal kan ses verskillende kase of ander duur bestanddele in die huis aanhou nie,” verduidelik hy.

“Tyd is ook ʼn faktor, veral met beurtkrag. ʼn Mens het nie tyd om ure lank skilferkorsdeeg uit te rol of ander lang resepte te volg nie.

“Ek het ook probeer om goed te gebruik wat ʼn mens normaalweg in die huis sal hê. Of, soos met die pannekoekresep, waar ek die gebruik van beide suiker en melk uitskakel en een blikkie kondensmelk gebruik. Ek moes slim te werk gaan om die resepte saam te stel.”

Die omslag van “Daar’s ‘n man in my kombuis”.

Tobi erken egter ruiterlik dat hy nie skielik ʼn koskenner is nie. “Ek is ʼn sanger en skrywer met ʼn passie vir kosmaak. Ek kompeteer nie nou met koskenners nie en ek bloos nie om te sê ek maak kortpadkos nie.”

Daar’s ʼn man in my kombuis bevat stylvolle foto’s en onder meer maklike voorgeregte, hoofgeregte, stadige prutpot-resepte en “nog ander lekker goed soos fudge en springmielies met spek en ʼn brandsousie. Jy sal jou vingers voor die TV aflek.

“Die boek bevat regtig iets van alles. Dit is maklike resepte waarmee kinders ook ʼn liefde vir kosmaak kan kweek.”

Tobi vertel die idee vir Daar’s ʼn man in my kombuis is gebore toe hy tydens die vroeë inperking in 2020 in sy familie se strandhuis in Mosselbaai vasgekeer was.

“Ek het in die klein kombuisie met kos begin eksperimenteer, want ons kon darem nog winkel toe gaan. Later het ek vir die bure begin kook, elke keer in ruil vir ʼn bottel wyn,” lag hy.

Tobi hou tot in Desember vanjaar huiskonserte ten bate van die Suid-Afrikaanse Dierekankervereniging, met die helfte van die inkomste wat aan dié liefdadigheidsorganisasie geskenk word.

“Ek kuier in mense se huise met my klavier en ek kook iets uit die boek. Ek sing ʼn verskeidenheid van liedjies terwyl ons heerlik kuier en ʼn kaggel opsteek.

“Ek glo kosmaak gaan nie net oor eet nie. Dit is wanneer ons kom sit, saamkuier en al ons sintuie gebruik terwyl ons met mense kommunikeer.”

  • Vir bestellings van Daar’s ʼn man in my kombuis, of navrae oor huiskonserte en ander vertonings, stuur ʼn e-pos na [email protected] of bestel die boek op Naledi se webwerf.
  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Tobi Jooste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.