Luister: Só skryf Mel die Storieverteller haar eie verhaal

Die TikTok-ster Melanie du Toit, bekend as Mel die Storieverteller. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die TikTok-ster Melanie du Toit, bekend aan haar derduisende volgelinge as Mel die Storieverteller, hoor al van kleintyd af dat sy iemand is wat graag paaie aandurf wat ander té bang is om te loop.

Onderwys, drama en skryfwerk asook haar onlangse waaghalsige sprong van sosialemedia-spekskieter na komediant, is juis ʼn klinkende bewys van haar vreeslose benadering tot vernuwing.

“Ek het al na so baie plekke gereis en nuwe dinge probeer, maar dit voel asof my loopbaan nou ʼn samekoms van al daardie ervarings en verskillende beroepe was – dan besef ʼn mens hoekom jy deur sulke fases moes gaan om op ʼn sekere punt uit te kom,” vertel Mel in die Maroela Media-ateljee.

Soos baie mense het Covid-19-verveeldheid haar in 2020 na TikTok gelei waar “ʼn paar simpel komiese sketse”, soos sy dit noem, mense laat skaterlag en volgelinge vinnig laat aangroei het.

Haar pittige kommentaarvideo’s oor die kykNET-reekse Boer soek ʼn vrou en Die Real Housewives van Pretoria was egter volgens Mel haar eerste deurbraak-oomblik.

“Toe sien ‘belangrike’ mense my,” vertel sy laggend.

In 2023 het sy die besluit gemaak om met haar komiese eenvrouvertoning, Almal is Mal!, die skuif van sosiale media na die verhoog te maak.

“Ek het eers besef dat mense werklik van my kennis neem toe ek my debuutvertoning by die Atterbury Teater in Mei gedoen het. Op jou foon sien jy net name en getalle, dit is anders as om in lewende lywe deur mense voorgekeer te word.”

Volgens Mel is haar lewe sedert haar kinderdae in Middelburg, Mpumalanga, nog altyd met stories gevul.

Mel glo dit is belangrik dat vroue hulself moet ken en daarin vasstaan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Met inspirasies soos Tolla van der Merwe en Nataniël, is dit ook maklik om te verstaan hoe sy eendag op die verhoog sou beland.

“Ek het as twaalfjarige vir Nataniël die eerste keer gesien en sy boek, Tuesday, tot vervelens toe gelees. Toe ek hom onlangs uiteindelik kon ontmoet, het ek skoon in trane uitgebars en besef watter impak sy stories op my gehad het. Nou skryf ek my eie stories vir my eie vertonings – dit is eintlik mal!”

Mel bieg dat sy vinnig moes leer dat sosialemediaberoemdheid ook nie altyd dieselfde trefkrag in “die regte wêreld het nie”.

“Ek voel asof ek beslis harder moet werk om in vermaaklikheidskringe ernstig opgeneem te word. ʼn Venue het al vir my gesê dat mense nie kaartjies gaan koop vir ʼn storieverteller wat hulle nie ken nie. Ek besluit toe op ʼn ander venue in dieselfde dorp, en ons het uitverkoop – met hoë aanvraag vir ʼn tweede een.”

Daarom deel sy graag, waar sy kan, die kollig met ander opkomende kunstenaars.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek weet hoe dit voel om onderskat te word en te sukkel. ʼn Mens kan so maklik die kans misloop om nuwe talent te ontdek as jy nie bereid is om ʼn kans te waag nie.”

Om ʼn komediant te word, en boonop een van min vroulike Afrikaanse komediante, was nie volgens Mel op haar wenslysie nie.

“Êrens moes ek ʼn skuif van sosiale media af maak. Ek is ambisieus en ek wou ʼn eenvrouvertoning doen, maar ek wou dit doen as Mel, nie as ʼn karakter nie. Ek is ʼn vrou met ʼn opinie en ʼn unieke humoristiese uitkyk oor die lewe, so stand up komedie het baie organies gebeur.”

Beroemdheid was beslis nie haar einddoel nie, maar eerder om mense gehoor en gesien te laat voel deur humor en verhale.

“Ek wou net stories vertel en dalk af en toe mense motiveer en inspireer. Ek bekommer my nie oor voorblaaie nie, maar eerder die verbintenis met my gehoor.”

Daarom praat Mel graag oor onderwerpe soos liggaamspositiwiteit, veral onder vroue.

“Ek het vroeg geleer dat mense buite jou binnekring nie ʼn invloed op jou lewe hoef te hê nie. Ek is al van kleins af ‘vreemd’ en moes baie kommentaar trotseer oor hoe ek lyk, hoe ek praat en hoe ek goed doen, maar ek was nog altyd geseënd om nie om te gee wat ander dink nie.”

Sy sê glo dit is belangrik dat vroue hulself moet ken en daarin vasstaan.

“Daar is soms woorde wat steek, maar ek dink diegene wat sukkel om hulself te vind, gaan makliker omgee wat ander dink. Ons moet dit normaliseer dat almal nie dieselfde lyk nie en ophou om ʼn bespotting van mense se voorkoms te maak – daar is baie ander bronne van humor.”

Die trouklokke lui vroeg volgende jaar vir dié komediant en haar verloofde, Ronald Welgemoed. Die paartjie woon tans in die Paarl in die Wes-Kaap, maar volgens Mel lê hulle harte Weskus se kant toe.

“Ek gaan die hele Februarie afvat, en daarna is ek weer vuur en vlam vir my nuwe produksie, Dik en deurmekaar, waarmee ek weer die land wil plat toer.”

ʼn Nuwe boek en ʼn “opwindende samewerkingsprojek”, waaroor sy nog nie veel kan verklap nie, lê ook in die nuwe jaar voor.

“Ek skryf nou inderdaad my eie suksesverhaal en ek weet daar’s nog ʼn hele paar hoofstukke is om na uit te sien.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Kyk Mel se skreeusnaakse wenke vir oorspronklike Kersgeskenke hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.