Marciel: Talentvol, sportief en fiks

Marciel Hopkins. Foto: Verskaf.

Kom, laat ons nie doekies omdraai nie: Marciel Hopkins is ’n baie talentvolle vrou. Daar is die Boer soek ’n vrou-faam, die rolprente, die modelwerk, die honneursgraad (in sielkunde, nogal) en die lewensafrigtersessies.

En nou – ná ’n kort onderhoud – leer ’n mens dat sy ook ’n kranige skoolsportspeler was, terwyl sy steeds die fiksheidstorie met haar kenmerkende spontane glimlag aanpak.

Op hoërskool by Paarl Gimnasium in die Boland het sy onder meer op die atletiekbaan oor die hekkies geseil, netbal gespeel en “so ’n bietjie” geswem.

Nodeloos om te sê is een van haar gunsteling-sportherinneringe die groot derbystryde wanneer Gimmies teen die ander groot Paarlse skole – die Hoër Jongenskool en die Hoër Meisieskool – kragte gemeet het.

“Ek onthou om jou eie wedstryd te kon speel was net so lekker en belangrik as die ander groot kragmetings. Die energie en afwagting van daardie week was ongetwyfeld ook ’n hoogtepunt,” het sy vroeër die week vir Maroela Media gesê.

Benewens die opwinding wat skoolsport bied, kom die lewenslesse wat dit jou leer ook handig in die gejaagdheid van die professionele grootmenslewe te pas.

Foto: Verskaf.

“Sport het my dissipline geleer. Jy was nie altyd lus om te oefen nie – veral as jy hoor dat jy moet lyne op die netbalbaan hardloop – maar jy het steeds gegaan. Dieselfde kan gesê word van die vroeg opstaan op ’n koue Saterdagoggend in die winter om ’n wedstryd te gaan speel en die atletiekoefensessies gedurende ’n vakansie.”

Dan het netbal haar ook ’n ding of twee van menseverhoudinge wys gemaak. Sy sê self dat spanwerk baie belangrik is en dat jy moet leer om ander mense binne ’n spanopset te vertrou.

Ten spyte van die sukses ná skool is die sportiewe vlam nie geblus nie.

“Ek is mal oor gimnasiumwerk, terwyl ek en my verloofde (Handré Lourens) gereeld die berge aandurf of net lekker stap.”

Selfs tussendeur die Boer soek ’n vrou-opnames – selfs daar op plekke waar die grondpad, om vir U2 verkeerdelik aan te haal, geen naam het nie – doen sy getrou haar oefeninge. Sy het juis haar eie oefenprogram in Februarie geskryf en die volgende een is ook op pad; mooi betyds vir somer.

Foto: Verskaf.

Reg, talle joernaliste het al in tydskrifartikels, radio-onderhoude en TV-programme bevestig dat sy oor emmersvol talent beskik; ons weet dit en kan dit sommer by ons sigselwers sien. Maar hou sy daarvan om ’n volle rugbywedstryd te volg?

“Ek kan definitief ’n hele rugbywedstryd vir 80 minute kyk!” vertel sy laggend.

“Ek verstaan die spel en die reëls en dit is vir my baie lekker om te kyk. Ek moet sê, ek is mal daaroor om Wêreldbeker-toernooie te volg want dit is altyd vir my interessant om te sien wie uiteindelik met die louere wegstap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.