Milaan-modeweek herinner aan die 90’s; spog met bekende gesigte

Kim Kardashian, Domenico Dolce en Stefano Gabbana tydens die Milaan-modeweek. (Foto: Miguel Medina/AFP)

Indien jou grootwordjare in die 1990’s was, is dit dalk tyd om ou hoërskool- en studentedae-uitrustings uit die stoor te gaan haal en af te stof.

Van helderkleurige spogpakkies tot eksentrieke, dog modieuse, uitrustings is tydens die Milaan-modeweek op die loopplank vertoon en het getuig van dekade oue modeneigings wat eindelik weer die lig sien.

Die Milaan-modeweek wat van 22 tot 26 September vanjaar plaasgevind het, het die koppe laat draai, en nie net oor Paris Hilton se pienk pakkie waarmee sy die loopplank vir Versace aangedurf het nie.

Die ontwerper Alessandro Michele het ’n unieke lig op die Gucci-versameling geplaas deur van 68 tweelingpare gebruik te maak. Michele het later verduidelik dat die konsep van die versameling daarop gegrond is om te sien hoe “dieselfde uitrusting verskillende eienskappe op twee identiese mense beklemtoon”.

Kim Kardashian het tydens die geleentheid gewys wat in haar steek deur as kurator vir die Dolce & Gabbana-versameling op te tree. Saam het die trio deur Dolce & Gabbana se argiewe gegaan om die beste uitrustings van die 1987-2007-tydperk weer te vertoon.

“Dit was ’n droom wat waar geword het om te sien hoe die oorspronklike [uitrustings] weer gemaak word; ná al die jare is dit goed wat ons vandag sal dra,” het die werklikheidster gesê.

Saam met Hilton het Naomi Campbell, Kate Moss en Carla Bruni ook by dié Italiaanse modegeleentheid hul verskyning gemaak.

Die Milaan-modeweek bied ’n blik op die modeneigings van die 1990’s wat weer aan die blom is:

Cargo-broeke

Die bekende cargo-broeke wat uitstaan as ’n 90’s-mode-simbool, is op die modeweek in sagte, fyn materiale herskep.

Fendi het dié bekende styl tydens die week ten toon gestel. Versace het weer gekies om dié styl in pienk en pers satynbroeke ten toon te stel.

Rokke oor broeke

Dié styl het ’n reuseterugkoms op die modeweek gemaak.

Miuccia Prada het deursigtige rokke oor broeke vertoon, terwyl Fendi weer lospassende broeke saam met rokke stileer het.

Campbell en Bruni het lang winterjasse aangehad, wat oor lospassende broeke wat van dieselfde materiaal gemaak is, gedra vir die Tod’s-versameling. Dít dui weer op ’n neiging wat deur somer- en wintermode kan vloei.

Armani het inspirasie uit lande soos Indië en Sirië geput, met vloeiende, lospassende broeke en sarongs.

Hekelhemde


’n Bottega Veneta-model tydens die Milaan-modeweek. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Ouma se hekelvernuf mag dalk ’n reusemodetreffer wees wanneer die gehekelde pakkies vanjaar onder die Kersboom geplaas word.

Dié hekelmode is deur Fendi, Jill Sander en Bottega Veneta op die loopplank geplaas.

Vrugte-uitrustings

Appels, pere en kersies is nie net in jou vrugteslaai te sien nie, maar ook op jou klere.

Terwyl Roberto Cavalli druiwe, pynappels en palmbome op rokke laat pronk het, het Jeremy Scott van Moschino die helderkleurige uitrustings na ’n volgende vlak geneem.

Dié modehuis het inspirasie in opblaas-swembadspeelgoed gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.