‘Oppiestoep’ se gewilde grapjas op pad preekstoel toe

Andries Vermeulen.

Die Afrikaanse vermaaklandskap ken Andries Vermeulen as sanger, grapjas en storieverteller, maar dié gewilde mede-aanbieder van Oppiestoep se kop staan nou ook preekstoel toe.

Vermeulen en die span van Oppiestoep, die gewilde storievertelprogram met Vermeulen en Pietman Geldenhuys as mede-aanbieders, het Maandag aangekondig dat hy voorlopig uit sy rol in dié program gaan tree.

Volgens Vermeulen het hy saam met Geldenhuys en die vervaardiger van die program, André Calitz, die besluit geneem om voortaan sy fokus te plaas op die teologiese studie wat hy in November verlede jaar aangepak het onder leiding van pastoor At Boshoff van die Christian Revival Church (CRC).

Hy vertel dat hy reeds sedert sy skooldae die droom in sy hart koester om in die bediening te staan en het uiteindelik, na lang gewik en weeg, einde verlede jaar vir sy Baccalaureus-graad in teologie aan die South African Theological Seminary (SATS) ingeskryf.

“Vroeg in my loopbaan het ek vir ʼn rukkie met die Here gestoei hieroor, want hoe meer ek in die bediening wou gaan, hoe groter het my sekulêre platform geraak. Baie mense het vir my gesê jy kan nie die Woord van God verkondig op sekulêre platforms nie, maar ek het ʼn dowe oor gegooi daarvoor en gesê ek sal die Woord verkondig presies nét waar ek beweeg. As dit werklik uit die hart kom, staan nie eens die duiwel self ʼn kans om jou te briek om te verkondig nie,” sê Vermeulen oor sy nuwe lewensreis.

Hy lag wanneer hy sê dat dit geen maklike taak was om op 33-jarige ouderdom weer student te word nie, veral nie met die verpligtinge wat hy as pa van drie klein kinders, sy seun R.W. en sy dogters Aleah en Ri-Andri, en teenoor sy vrou, Rieta, het nie.

“Alles is in hoog-Engels,” sê hy in sy Weskus-aksent. “Ek het die eerste week net so deur alles geblaai en gewonder waarvoor het ek myself nou ingelaat!”

Andries en sy vrou, Rieta, en hulle drie spruite (van links na regs) R.W., Ri-Andri en Aleah. (Foto: Verskaf)

Hy lê egter klem daarop dat hy nie ná ʼn suksesvolle loopbaan van 20 jaar die verhoog vaarwel roep nie. ʼn Nuwe album is in die pyplyn en daar is planne om in Desember weer op ʼn Oppiestoep-kustoer te gaan, hoewel al die Oppiestoep Kuber Kuiers-aanlynkonserte voorlopig op ys geplaas is.

“My mandaat wat ek by die Here gekry het is om steeds betrokke te wees in die openbare oog. Mense wat my ken en my optredes volg sal weet dat ek al etlike jare my aanslag op die verhoog stelselmatig begin verander het – van die rowwe, growwe seuntjie wat hulle leer ken het, tot die hart van ʼn man en pa wat die woord van God in hom dra,” sê Vermeulen.

Hy voeg by dat hy dankbaar is dat Geldenhuys en Calitz sy hart raakgesien het oor die redes waarom hy graag in die bediening wil tree.

“Dit het vir my moeilik begin raak om te fokus op my bediening en die studie wat nou baie tyd in beslag neem. Ek moes ʼn besluit neem oor waarop ek wil fokus. Ek het dié besluit saam met ʼn klomp rolspelers in my lewe gemaak. Ek en Pietman was van dag een af soos broers en dit is ons steeds. Ek is ook nog steeds dieselfde ou wat almal ken – dié is net my groter roeping.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Toe ek die opskrif lees het ek nog al gewonder…. Is Andries nie alreeds getroud nie? Word die term “Op pad preekstoel toe” nie meer korrek gebruik vir die voorkant van die preekstoel as daarop nie?

AmY ·

Welgedaan Andries; dat jy na God se stem geluister het. Baie sterkte met jou studies.

MakersMark ·

Dink oppiestoep betaal dalk karig toe kry hy ‘n mandaat reg van bo…….

OW ·

Wie sal weet,miskien kry jy dalk eendag ‘n mandaat reg van bo om die Woord te verkondig.

MakersMark ·

Dalk sal iemand wat ernstig oor sy “mandaat reg van Bo” is dit nie publiek uitbasuin en dit probeer regverdig nie.

Annelize ·

Agge nee regtig, ek sal ook maar eerde agter ‘n skuilnaam wegkruip as ek sulke swak kommentaar lewer Pokkel.

Nerens in die berig noem Andries iets van Rand en sent nie. Al wat ek gelees het is dat hy nou die pad volg wat al lank in sy hart le, en wat die Here hom op gelei het, hoeveel draaie daardie pad ook al gemaak het, insluitend die sekulere platform.

Ek kan net my kop skud vir jou Pokkel….

Debbie ·

Pokkel, as ek jaloers soos jy was op ander mense se sukses en vooruitgang, sou ek ook onder ‘n skuilnaam skryf. Sies man!!!

Retha ·

Andries, ons het al op youtube na jou boodskappe geluister en daarom wens ek en mmy man jou baie Seën en voorspoed toe met die nuwe rigting in jou lewe. Sal graag wil volg op jou loopbaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.