Pietie Beyers oor nuwe rolle, verloof wees en Freddie Prinze Jr.

Pietie Beyers. (Foto: Willem Lourens/Facebook)

“Die lewe is ʼn wilde jol, maar so loop hy maar. Hoe gaan dit met jou?”

Só lui die inleiding van ʼn episode van So loop hy maar, die podsending-geesteskind van die akteur Pietie Beyers en sy vennoot Neil Kidd, maar dit is ook ʼn kort opsomming van Beyers se algehele benadering tot die lewe.

As jong Afrikaanse akteur pryk Beyers (32) se kenmerkende groot glimlag gereeld op die kassie. Hy het onlangs die rol van John vertolk in die kykNET-dramareeks Die Boekklub en het as Braam in die SABC2-sepie 7de Laan verskyn.

Dié aanbieder van die VIA-vasvraprogram Blitsbrein bied ook deesdae aanlyn Zoeloe-klasse aan. Hy vertel aan Maroela Media hy het sy eerste Zoeloe-lesse geneem by ʼn man wat hom in ʼn Johannesburgse parkeerterrein in dié inheemse taal touwys gemaak het.

“Ons het amper ʼn jaar lank in die middae ontmoet en dan het hy net daar in die motor met die lugversorger aan vir my Zoeloe geleer. Daarna het ek nog ʼn paar lesse op ʼn webwerf genaamd Fluentella geneem, waar jy aanlyn verskillende tale van die wêreld kan leer.

“Verder leer ek nou elke dag, want die voordeel daarvan om ʼn plaaslike taal te leer is dat jy elke dag kan oefen en daar is miljoene onderwysers rondom jou.”

Neil Kidd en Pietie Beyers van So Loop Hy Maar. (Foto: Marguerite Oelofse/The Rare Library/Juanita Kotzé/Mandri Sutherland)

As mense wat hou van interessante gesprekke, het Beyers en Kidd besluit om enigiemand in die wêreld wat daarin belangstel om ʼn episode van die podsending saam met ʼn interessante gas op te neem, dié kans te gun.

“Ons weet van baie mense wat van interessante goed bewus is waarvan ons nie weet nie en ons kan soveel by mekaar leer deur na mekaar se stories te luister,” sê hy.

“Enigiemand in die wêreld kan dus die aanbieder van So loop hy maar wees. Al wat jy hoef te doen, is om ons te laat weet en al wat jy kort, is ʼn selfoon of ʼn rekenaar.”

Die nuusverslaggewer Nadine Theron het met die avonturier Riaan Manser gesels. Die atleet Akani Simbine, David Scott oftewel The Kiffness, asook die Wonderlus– en Meisies wat fluit-regisseur Johan Cronjé was ook al gaste op die podsending.

Beyers en Kidd het onlangs die Amerikaanse akteur Freddie Prinze Jr., wat in die laat 90’s ʼn hartebreker in flieks soos She’s All That, I Know What You Did Last Summer en Summer Catch was, genader om ʼn bemarkingsvideo vir So loop hy maar op te neem.

Dié video het wyd reaksie uitgelok onder aanhangers van die podsending. “Neil het ʼn belaglike sin vir humor en het met die idee gekom dat ons iemand wat bekend, maar nie noodwendig tans relevant is nie, nader om ʼn video vir ons te maak.

“Hy het my gevra of ek nog vir Freddie Prinze Jr. onthou. Ons het toe geen moeite ontsien om hom op te spoor nie. Ons het hom gevra om vir ons die video te maak en hy het ingestem, waaroor ons baie dankbaar is.”

Beyers verklap dat hy binnekort in ʼn Silwerskermfees-kortfliek getiteld Twintig tone in ʼn hangkas deur regisseur Morné Strydom te sien sal wees.

“Morné het groot planne met dié kortfliek. Ek het al aan ʼn paar goed gewerk waarvoor ek dankbaar is en elke projek het sy eie sjarme en uniekheid, maar dié projek was besonder spesiaal.”

Hy beskryf dit as ʼn donker komedie, al is dit nie so donker soos wat dit klink nie. “Ek kan vinnig afgesit raak deur goed wat ‘kuns’ genoem word, maar wat eintlik net mense skok. Ek hou nie daarvan nie. Die kuns is vir my die brug tussen my en jou, nié wat ek is en wat my cool maak nie. Die kuns is vir my in hoe ons met mekaar praat.”

Sy akteursvriend Kaz McFadden dra ook vir die eerste keer ʼn regisseurshoed vir ʼn vollengtefliek met Die Koninkryk van Korona, ʼn kykNET-Storiefilm wat binnekort te sien sal wees.

Die teks is geskryf deur kinderboekskrywer Jaco Jacobs. “Ek kan sien waarom Jaco ʼn bekroonde skrywer is, want die teks is ʼn hele verbeeldingswêreld.”

Pietie Beyers en sy verloofde, Anneke Weidemann. (Foto: Facebook)

Intussen baai Beyers en sy verloofde, Anneke Weidemann, in die verlowingstydperk nadat hy in Februarie vanjaar ʼn ring aan haar vinger gesteek het.

“Ons staan in die oggend op en dan sê ek gereeld vir haar: ‘Blom, vandag is ek die meeste verloof wat ek al ooit in my lewe was’. Dit is sommer net ʼn lawwigheid, maar ons geniet dit om verloof te wees.”

Hulle is al sowat vyf jaar lank ʼn paartjie. “Ons is al lank saam, so wat leefstyl betref, het daar nie veel verander nie, maar dit voel soos ʼn kersie op die koek as ekstra bevestiging van wat ons al klaar geweet het.”

Om deel te word van So loop hy maar, stuur ʼn e-pos na [email protected].

Freddie Prinze Jr Hierdie podcast is mos nie nuut nie my tjom, maar ons waardeer die mooi woorde yster ????

Posted by SO LOOP HY MAAR on Wednesday, April 28, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.