Superster en klerehandelsmerk pak geestesgesondheid met veldtog van miljoene

Lady Gaga Born this Way x Cotton On Foundation (Foto: Verskaf)

Die Amerikaanse sangeres, liedjieskrywer en aktrise, Lady Gaga, was nog altyd uitgesproke oor haar eie uitdagings met geestesgesondheid.

Sy en die mode- en leefstylhandelsmerk, Cotton On, het nou hande gevat om $5 miljoen (sowat R95 miljoen) in te samel vir wêreldwye geestesgesondheid met R2,5 miljoen wat aan Suid-Afrika geskenk sal word.

Die samewerking tussen Lady Gaga en haar ma, Cynthia Bissett Germanotta, se Born This Way-stigting en die Cotton On-stigting bestaan uit die ontwerp van ʼn beperkte versameling mode- en leefstyl-items, insluitende pette, T-hemde, sakke, skryfbehoeftes en ʼn denimbaadjie.

Hierdie items sal beide aanlyn en in uitgesoekte winkels tot 10 Oktober beskikbaar wees, met al die netto opbrengste wat aan die Born This Way-stigting geskenk sal word.

Die sangeres het juis die stigting gewy aan die verbetering van geestesgesondheidshulpbronne vir jeugdiges en die bevordering van ʼn meer deernisvolle en moedige wêreld vir jongmense.

“Ons is geëerd om saam met die Cotton On-stigting te werk as ons eerste wêreldwye veldtog wat ons missie versterk om ʼn vriendeliker, dapper wêreld saam te bou,” het Lady Gaga gesê.

Die sangeres het al openhartig oor haar eie stryd met geestesgesondheid gepraat. Lady Gaga se persoonlike ervaring met seksuele aanranding, posttraumatiese stresversteuring (PTSV), en chroniese pyn, maak haar ʼn persoon waarmee talle individue kan identifiseer.

Sy het met die geselskoningin Oprah gepraat oor haar stryd met fibromyalgia en hoe haar geestesgesondheid ʼn sentrale rol in haar algemene welstand speel.

Haar traumatiese ervaring van herhaalde verkragting op die ouderdom van 19 het tot die ontwikkeling van PTSV gelei. Sy het op daardie stadium nie professionele ondersteuning of terapie ontvang om die trauma te verwerk nie, en ʼn meteoriese reis na bekendheid het haar genesingsproses verder bemoeilik.

Lady Gaga het die belangrikheid van medikasie beklemtoon om haar geestesgesondheid te bestuur. Sy het die kontroversie rondom dié onderwerp erken, aangesien stigma steeds die gebruik van medikasie vir geestesgesondheidskwessies omring.

Lady Gaga Born this Way x Cotton On Foundation (Foto: Verskaf)

Haar bereidwilligheid om haar afhanklikheid van geestesgesondheidsmedikasie openlik te bespreek, beklemtoon die noodsaaklikheid om hierdie stigma te verminder.

“Medikasie het my geweldig gehelp. Ek neem ʼn antipsigotiese middel en ek sou baie gereeld in ʼn spiraal na onder verval het, as ek dit nie gebruik het nie.

“Ek weet baie mense is bang vir medikasie, maar ek wil help om die stigma rondom dit aan te spreek, want geestesgesondheid is ʼn krisis.

“Cotton On se doel is om ʼn positiewe verskil in mense se lewens te maak. Ons stigting het begin met ʼn verbintenis om 10 miljoen mense te help om toegang tot geestesgesondheidsdienste te kry. Die Born This Way-stigting is ʼn organisasie wat ons waardes deel, en is ʼn belangrike vennoot om hierdie doelwit ʼn werklikheid te maak,” het Peter Johnson, uitvoerende hoof van Cotton On, gesê.

Behalwe vir die produkte, sal die samewerking ook die Born This Way Foundation se inisiatiewe ondersteun, insluitend die Be There-sertifikaat. Dit is ʼn gratis aanlyn kursus wat in vennootskap met Jack.org geskep is, en wat deelnemers in staat stel om hul portuurgroep wat geestesgesondheidsuitdagings in die gesig staar, te ondersteun.

Suid-Afrikaners kan ʼn plaaslike geestesgesondheidsorganisasie nomineer om van die befondsing wat die twee stigtings beoog om in te samel, te ontvang.

Bykomende bronne: Hello Magazine, Insider.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.