Twee van SA se bekendstes bied Mej. SA aan

Nico Panagio. (Foto: Verskaf).

Anele Mdoda en Nico Panagio, twee van Suid-Afrika se bekendste glanspersoonlikhede, gaan vanjaar die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie aanbied.

Die troonopvolger van die huidige Mej. SA, Shudufhadzo Musida, sal op Saterdag 16 Oktober in die Grand Arena by GrandWest in Kaapstad gekroon word.

Mdoda is sedert 2013 deel van die Mej. SA-familie sedert sy die eerste keer as beoordelaar van die kompetisie opgetree het. Dit is vanjaar die eerste keer wat sy die aanbieder sal wees.

Panagio, wat onlangs as aanbieder van die gewilde werklikheidsreeks Survivor SA opgetree het, het een keer tevore die gesogte Mej. SA-kompetisie aangebied.

“Dit is die toptien wat die middelpunt van die aandag sal geniet. Ek is bloot die voertuig wat die aand gaan laat beweeg, met insig in waar die finaliste se gedagtes moet wees en oor wat die beoordelaars sal dink,” sê Mdoda.

Sy moedig kykers aan om in te skakel terwyl die nuwe koningin gekroon word. “Dit gaan ʼn pragtige aand wees. Daar is groot veranderinge aangebring aan die kompetisie sedert ek betrokke was. Die span aan die stuur is jonger en brawer en daar is geen vasgestelde standaard van skoonheid nie. Outentiek is nou die wagwoord.”

Volgens Panagio is hy opgewonde om die rol van seremoniemeester met Mdoda te deel.

Anele Mdoda. (Foto: Verskaf)

“Anele is die toonbeeld van die viering van die lewe. Sy straal passie en vreugde uit en dit is altyd pret om met haar te doen te kry. Ek verkies gewoonlik om alleen te werk, tensy dit saam met iemand soos sy is.

“Mede-aanbieding vereis ʼn ander benadering en kan groot pret wees mits die persoon saam met wie jy werk daarvan hou om ʼn goeie tyd op die verhoog te hê. Ek weet dit is iets wat ons albei deel en sien regtig uit daarna.”

“Ons is baie opgewonde om vir Anele Mdoda en Nico Panagio aan boord te hê as aanbieders van vanjaar se prestige geleentheid. Mdoda en Panagio is albei talentvolle persoonlikhede en dit beloof om ʼn aand van glans en skoonheid te wees. Ons kykers kan ʼn onvergeetlike en vermaaklike aand verwag,” sê Nomsa Philiso, direkteur van plaaslike vermaakkanale by M-Net.

Mej. SA 2021 sal ʼn pakket van pryse en borge ter waarde van meer as R3 miljoen wen. Die toptien wat om die kroon sal meeding is Bianca Bezuidenhout, Catherine Groenewald, Cheneil Hartzenberg, Jeanni Mulder, Kaylan Matthews, Kgothatso Dithebe, Lalela Mswane, Moratwe Masima, Tiffany Francis en Zimi Mabunzi.

Mej. SA word deur Weil Entertainment aangebied in samewerking met M-Net, Mzansi Magic, Sun International en Stad Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Ugh gee my krag. Sal maar dit skip dankie. Ek kan daai Anele nie verdra nie. Sy dink sy’s so oulik en Nico dink hy’s gods gift to women…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.