Video: Humor wen vir Bennie en Bouwer

Bennie Fourie en Bouwer Bosch. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die akteursvriende en sakevennote Bennie Fourie en Bouwer Bosch het die afgelope vyf jaar ʼn kuns daarvan gemaak om Suid-Afrikaanse uitdagings en komieklike misverstande in skreeusnaakse reklame vir van die land se grootse handelsmerke te omskep.

Van ʼn boer wat ʼn verleidelike danspassie vir ʼn trekker doen in ʼn King Price-advertensie, tot Schalk Bezuidenhout wat deur die rugbylegende Bakkies Botha ge-abba word vir We Buy Cars.

Dan natuurlik ook die transitoroof-held Leo Prinsloo se onvergeetlike “Brakpan-opleidingsessies” vir The Courier Guy – iets wat die twee grapjasvriende bieg hulle eers 20 minute vóór hul finale voorlegging aan dié kliënt kon verfyn.

“Eintlik weet ons steeds nie heeltemal lekker wat ons doen nie,” sê Bennie skertsend aan Maroela Media, agter die skerms van hul advertensie vir die energiedrankie, Switch.

“Bennie het BCom Regte geswot en ek het vier jaar lank aan ʼn drie jaar kommunikasiegraad studeer. Ons is soos die ultimate underdogs in die advertensiewese, maar dit werk vir ons,” beaam Bouwer.

In hulle nuwe advertensie vir Switch ontmoet ʼn jong man sy meisie se ouers vir die eerste keer, maar weens sy gebrek aan energie loop ʼn paar dinge baie vinnig baie skeef.

Kykers sien hoe “werkers” in die man se brein, wat onder andere deur Bouwer vertolk word, “interne beurtkrag” per ongeluk instel, wat ʼn skreeusnaakse uitwerking op sy liggaam het.

Dié advertensie is in een (lang) dag op twee verskillende plekke in Johannesburg geskiet en was ook danksy Eskom nie sonder sy tipiese Suid-Afrikaanse uitdagings nie.

“Dit was die eerste keer wat ons so tipe stel en konsep gehad het waar ons twee wêrelde geskep het. Ons daag onsself ʼn bietjie uit met hierdie advertensie en doen iets anders as tevore,” verduidelik Bennie.

Hulle agentskap, Freckle Creative Agency, is die produk van hulle jare lange vriendskap en komplementerende vaardighede as skrywers, vervaardigers en komediante.

Ná hulle ontmoeting 15 jaar terug as studente by ʼn improvisasiegroep op die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus het hulle paadjies kort-kort aanhou kruis.

Hulle eerste groot gesamentlike projek was in 2017 met die lekkerlag- vollengte fliek, Vuil Wasgoed, wat aanvanklik in 2014 as ʼn kortfilm skoonskip by die kykNET Silwerskermfees gemaak het.

Ná hul eerste suksesvolle advertensie vir King Price in 2018 het die reklamewêreld kort-kort begin klop en volgens Bennie is dit hoofsaaklik danksy sy en Bouwer se gedeelde humorsin.

“Komedie is iets waarmee ons almal kan vereenselwig. Suid-Afrikaners verskil dalk hemelsbreed oor baie goed, maar ons lag dikwels vir dieselfde goed en daardie universele waarhede is wat aanklank by mense vind,” verduidelik Bouwer.

Volgens hom is hul inhoud ook uniek omdat hulle nie produkte of dienste verkoop nie, maar eerder die handelsmerk se verhaal op ʼn humoristiese manier in ʼn kortfilm vasvang.

“Kliënte sê net altyd ‘laat dit viral gaan’,” lag Bennie.

“Dit bring die grootste vreugde wanneer dit wel wyd versprei word, want wat advertensies betref is komedie soos ʼn geskenk. As jy iets snaaks sien en dit vir iemand wil aanstuur is, is dit soos iets wat jy vir hulle gee. Ons probeer ons inhoud op so ‘n manier verpak dat jy nie anders kan as om dit met almal te wil deel nie,” voeg hy by.

“Ek glo ons al twee het die gawe gekry om mense te laat lag en hierdie agentskap is absoluut ‘n uitvloeisel daarvan.”

Kyk na die volledige onderhoud hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.