Vroue in kunstebedryf oor belangrikheid van bemagtiging

Simoné Nortmann. (Foto: Suna Robberts)

Simoné Nortmann. (Foto: Suna Robberts)

Vroue van oor die wêreld woeker reeds dekades lank om hul stemme in ʼn mansgedrewe samelewing te laat hoor én te laat geld.

Sedert einde verlede jaar het die vlaag van feminisme en vrouebemagtiging ʼn gesonde hupstoot gekry met die aanvang van die Me Too- en Time’s Up-bewegings wat in Hollywood ontstaan het en deur die res van die wêreld aangegryp is.

Al staan Suid-Afrikaanse vroue se hande sedert menseheugenis vir niks verkeerd nie, is daar slegs enkele groot geeste in die plaaslike kunstebedryf wat dadelik uitstaan wanneer ʼn mens begin vrouename opnoem.

Katinka Heyns as fliekregisseuse, Bettie Kemp in die televisie- en radiobedryf, Mimi Coertse as internasionale operasangeres, en Elsje Stark, wat tans aan die stuur van die gewilde kykNET-sepie Binnelanders staan, is enkele noemenswaardige vroue wat die weg vir ander vroue in die kunstebedryf gebaan het.

Deesdae is die plaaslike kunstebedryf volop met jong en dinamiese raakvatters wat vir geen man hoef terug te staan nie – en met goeie reg.

Donnalee Roberts, wat die publiek se aandag getrek het met haar rol as Annelie in die SABC2-sepie 7de Laan en haarself sedertdien as een van Suid-Afrika se toonaangewendste vrouefigure in die plaaslike kunstebedryf gevestig het, sê daar het die afgelope paar jaar baie verandering in dié bedryf plaasgevind.

Sy en haar vennoot van die produksiemaatskappy 17 Films, die akteur en regisseur Ivan Botha, is later vanjaar weer op die grootskerm te sien in hul derde samewerkingsfliek, Stroomop. Hul vorige rolprente, Pad na jou hart en Vir altyd, was albei lokettreffers. Stroomop word vanjaar op Vrouedag, 9 Augustus, in fliekteaters landwyd vrygestel.

Donnalee Roberts. (Foto: Chanel Oosthuizen)

Donnalee Roberts. (Foto: Chanel Oosthuizen)

“Ek en Ivan het reeds drie jaar gelede met die idee vir Stroomop vorendag gekom. Ons wou graag ʼn fliek maak waar ons die wêreld se opvattings oor vroue, asook die norme en verwagtinge van die vrou, uitdaag en oopvlek,” vertel sy.

“Ons wou hê die vrou moet haarself red en haar eie heldin wees. Ons sou nooit kon voorspel dat juis nou, in dieselfde jaar wat ons gereed is om die fliek vry te stel, vroue wêreldwyd op so ʼn groot skaal sou opstaan vir hul regte en dit waarin hulle glo nie.”

Sy vertel hulle het sover moontlik vroue in die Stroomop-span gebruik. “Ons het vir ses weke in uitmergelende omstandighede op die Oranjerivier geskiet. Ons het gekamp in hitte van 46 grade Celsius en die span, wat grootliks uit vroue bestaan het, het almal ewe hard gewerk, gesweet en gehuil saam met die mans. Daar is nooit onderskeid getref tussen die mans en vroue op die stel nie. Daarom moet ons die mans wat op die stel gewerk het ook eer, want hulle het die vroue op die stel met respek en gelykheid behandel.”

Simoné Nortmann, die rooikopaktrise wat die rol van Vivian in Stroomop vertolk en onlangs te sien was in hoofrolle in flieks soos Vir die voëls en Wonderlus, stem saam met Roberts dat vroue in die vermaakbedryf nie noodwendig mans uit hul rolle wil stoot nie, maar dat daar ruimte gemaak moet word vir vroue in alle fasette van die bedryf.

“Vroue wil nie meer net die hoofrol speel of die grimering en stilering doen nie. Hulle wil die kameras dra, die klank behartig en die redigering doen. Gelyke geleenthede weerspieël ʼn gesonder samelewing. Afgesien daarvan, is dit ook net regverdig. Ek glo in die Woord en glo soos in Efesiërs dat mans en vroue uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig moet wees.”

Tog is dit vir haar moeilik om “nee” te antwoord op die vraag of vroue ernstig opgeneem word in die plaaslike kunstebedryf. “Rolle vir vroue het baie toegeneem in Afrikaanse flieks die afgelope paar jaar en daar is ooglopend baie sterk vroue in die bedryf. Op sekere vlakke, byvoorbeeld in komedie, skitter Suid-Afrikaanse vroue in hul afwesigheid. Daar is die persepsie dat mans net vir mans lag. Ek sou ook sê ons het ʼn tekort aan regisseuses.”

Nosipho Dumisa. (Foto: Verskaf)

Nosipho Dumisa. (Foto: Verskaf)

Nosipho Dumisa, regisseuse van die splinternuwe Afrikaanse misdaadriller Nommer 37 wat tans in fliekteaters landwyd draai, sê dit voel asof vroue in die plaaslike kunstebedryf toenemend ernstiger opgeneem word, maar dit is belangrik vir vroue om hul eie weg in dié mansgedrewe bedryf te baan.

“Nadat ek filmskool voltooi het, het ek my eie maatskappy op die been gebring. Ek het my eie besluite geneem en myself gebring tot waar ek die regisseuse kon wees van ʼn vollengtefliek wat op silwerdoeke landwyd draai.”

Sy sê dat sy egter soms nog haarself in vertrekke bevind waar haar manseweknieë soms eerder na mekaar sal draai om klankbord te speel vir idees. “My manskollegas sal gereeld bevestiging van een van my idees by mekaar soek en amper vergeet dat ek ook in die vertrek is. Ek weet hulle is nie moedswillig nie, want ons is in ʼn bedryf wat tot groot mate deur mans oorheers word.”

Maude Sandham, teaterregisseuse wat onder meer verantwoordelik is vir die regie van Nortmann se eenvroustuk, Los asseblief ʼn boodskap, wat verlede jaar op die Aardklop Nasionale Kunstefees gedebuteer en vanjaar weer by die Innibos Laeveld Kunstefees te sien sal wees, beaam Dumisa se stelling.

“Ons vrouestemme word beslis meer gehoor, maar ons word op baie maniere nog steeds ondermyn omdat ons vroue is. Selfs al word daar meer rolle vir vroue geskep, word die tipe inhoud wat sentreer rondom die vrou se waarheid en inhoud wat die nieglansryke deel van vrouwees uitlig, afgekeur. Ons is nog steeds op die punt waar heteroseksuele liefdesverhale meer geld sal maak as ʼn stuk oor ʼn vrou se innerlike wroeging en dit het baie met die Suid-Afrikaanse gehore ook te doen.”

Maude Sandham. (Foto: Verskaf)

Maude Sandham. (Foto: Verskaf)

Sandham en mederegisseuse Nicola Pilkington se Engelse stuk, Tracks, is vanjaar by die Grahamstad Nasionale Kunstefees op die planke.

“Die bemagtiging van vroue deur middel van stories is so belangrik. Stories word geskep om mense se lewe te vier en ek voel daar moet verteenwoordiging wees in ons stories van vroue oor alle grense, hetsy velkleur, seksuele oriëntasie of ouderdom.”

Sy sê dit is belangrik om vir mense opsies te gee. “Sepies soos Binnelanders is ʼn belangrike medium, maar op die oomblik is al die storielyne nog gesentreer rondom ‘my man verkul my’-tipe goed. Ek hou daarvan wanneer grense verskuif word. Dit is meer opwindend.”

Roberts voeg by dat sy opgewonde is oor die Me Too- en Time’s Up-bewegings omdat sy glo dat ongelykheid op enige vlak, ongeag die werkgebied of teenoor mans of vroue, onaanvaarbaar is.

“Die bewegings word hoofsaaklik uit ʼn vroueperspektief gedryf, maar ek staan op teen ongeregtigheid, punt.”

Nortmann voeg by dat sy die oorsese vroue wat braaf genoeg was om na vore te kom met hul stories loof, maar dat daar plaaslik ook gevalle van ongelykheid en selfs seksuele wangedrag is waaroor niemand wil praat nie.

“Mense vra altyd waarom ander so lank wag om daarmee uit te kom of glad nie daarmee uitkom nie. Dit is omdat ʼn mens vertel word jy moet dankbaar wees vir jou werk. Aan die ander kant voel jy ook sleg vir die predator, want jy wil nie sy lewe ruïneer nie.”

Nortmann sê sy hoop dié internasionale bewegings sal Suid-Afrikaanse vroue aanmoedig om oop te maak oor onregverdigheid in die werkplek. “Ons is nog te bang vir mense se reaksies. Mense is nog bang hulle word randfigure op die kantlyn. Wat vir my mooi is van die Me Too-beweging is dat dit ʼn ensemble van vroue is wat ʼn gemeenskap vir ander vroue geskep het waar hulle nie meer so alleen hoef te voel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Mans gedrede samelewing? Watse bog is dit?
Vroue in SA vandag wat gelykstaande gekwalifiseerd en ondervinding het as ‘n man word baie meer betaal en kry ‘n hupstoot met aanstelling onder regstellende aksie.
Dit is verseker ‘n vrou gedrewe samelewing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.