Wian Taljaard ʼn dromer bowenal

Wian Taljaard. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

As kind was het Wian Taljaard alewig stories in sy kop opgetower. Sommiges sou dit ʼn ooraktiewe verbeelding noem, maar vir dié 25-jarige was dit juis die rede waarom hy ʼn akteur geword het.

Wian is veral bekend vir sy werk in Lui maar op, Belinda, Kompleks en nou onlangs ook die telenovela Arendsvlei.

Hy erken egter dat sy hart in die teater lê, met produksies soos My hart is ʼn muurbal (en ander gedagtes), Bul, Die maan val bewusteloos en Die Suid Afrikaners agter die blad.

Hy is uiteraard ʼn diep mens wat voortdurend op soek is na nuwe en vars uitkyke oor die lewe en veral sy werk. Hy glo ook nie daarin om te stagneer nie en meen dat die rede waarom hy ʼn akteur is verander jaarliks soos wat hy as mens en akteur groei.

“As kind het ek verskriklik in my eie kop geleef, ek doen vandag steeds. My ma het my as agtjarige vir dramaklasse gestuur, en ek het nog nie weer teruggekyk nie.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hy het vir ʼn wyle gedink hy moet sy stadslewe vaarwel roep, ʼn stuk grond iewers in die berge koop en daar, sonder enige wêreldse bekommernisse, gaan bly.

Hy het egter intussen dié idee laat vaar en glo vandag dat hoewel daar nie eenvoudige oplossings vir die wêreld se probleme is nie, mense minstens daaroor kan begin praat in ʼn soeke na antwoorde.

“Dit raak al hoe meer hoofstroom dat mense wil weghardloop. Die aarde is daarmee heen, en die mense in beheer is nie hier met die beste bedoelings nie.

“Daar is niks wat ons gaan kan doen aan die wêreld se miljardêrs nie, maar ten minste kan ons daaroor praat.”

Dit is juis hierdie behoefte om weg te breek van wat die norm geword het, soos die oorgebruik van sosiale media, wat hom vir byna twee jaar laat besluit het om eerder Instagram van sy foon af te verwyder.

Wanneer hy dink aan die karakters wat hy tot dusver vertolk het, is Wian eintlik oortuig daarvan dat elkeen ʼn klein deeltjie van hom uitmaak.

Hy beskou ook elke karakter as ʼn geleentheid om homself telkens beter te leer ken.

“Elke karakter kon ek op een of ander manier aan myself verbind. Dit is net ʼn geval van jy draai een deel van jouself harder en ʼn ander deel van jou klein bietjie sagter.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Jy wil so graag iemand anders wees wanneer jy toneel speel, maar jy kan nooit weghardloop van jouself af nie. Jy werk met jou lyf en jou belewenisse – ek het nog nooit gevoel dat karakters te ver van my eie persoonlikheid verwyderd is nie.”

‘My hart is in die teater’

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Al laat hy hom nie afskrik van ʼn nuwe projek nie, bieg Wian maklik dat hy homself veel eerder in die gemak van die teater loslaat, as op die stel van ʼn reeks of fliek.

Teater bied vir hom ʼn ruimte waar hy homself kan wees, waar hy sy kuns kan vervolmaak en waar hy kan kom tot op ʼn punt waar sy karakter soos ʼn tweede vel sit. Met TV-werk is dit nie altyd die geval nie, verduidelik hy.

“Jy het nie soveel tyd om voor te berei of jou karakter te leer ken nie. In die teater bepaal jy jou eie optrede en kry jy soveel meer tyd om voor te berei.

“Dit is ʼn baie ou vorm van storievertel. Mense het duisende jare gelede om ʼn kampvuur gesit en stories vertel. Dit is waar ek tuis is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.