E-konsertgids: Leah, The Staccatos, Van Pletzen die naweek aanlyn te sien

Leah.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die sangeres Leah hou van 12 tot 17 Augustus tuiskonsert in samewerking met Dapper Media. “[Die konsert is] rou, akoesties, organies en intiem, natuurlik met ʼn positiewe boodskap en heerlike bekende liedjies,” sê sy.

“Danny Smoke en Rochelle Rautenbach begelei my in hierdie ongelooflik sielvolle vertoning. Ek is dankbaar vir die talent wat saam met my op julle skerms gaan wees. Mag julle my hart sien en die musiek geniet soos ek dit geniet.”

Kaartjies kos R69 en is hier beskikbaar.

Die jaarlikse Affie-Wildsfees word vanjaar aangebied as die Affie Virtuele Wildsfees. Die produksie bied ʼn alternatief aan wildsfeesgangers, maar waar die fees in die verlede eksklusief vir Pretorianers beskore was, kan kykers wêreldwyd nou saamkuier.

Die 3-uurlange produksie sluit optredes in van Appel, Bad Peter, Elandré en Early B. Nog ʼn groot verrassing sal later aangekondig word. Hou die webwerf dop by www.affieswildsfees.co.za.

Hierdie fondsinsamelingsprojek word regstreeks uitgesaai op Saterdag 15 Augustus vanaf 17:30. Kaartjies kos R300 vir die hele gesin en is hier beskikbaar.

Vrydag 14 Augustus

Van Pletzen.

Die satiriese Afrikaanse duo Van Pletzen en die kletsrymer Early B is Vrydag te sien in ʼn aanlyn vertoning. Met hoë energie en positiewe houdings sal dié 100 minuut lange vertoning jou Vrydagaand opkikker.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Die eertydse groep The Staccatos is Vrydag te sien in ʼn aanlyn vertoning in samewerking met die Pierneefteater.

In hulle vertoning Staccatos Revival neem stigterslid Brian le Gassick (76) en ʼn vorige hoofsanger van die Staccatos, Steve Ashley (71), die gehoor op ʼn nostalgiese reis. Hulle sing en speel gehore aan die brand met hulle groot treffer “Cry to me” asook ander goue oues soos “Spicks and Specks” en “To love somebody”.

Die vertoning begin om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Saterdag 15 Augustus

helena hettema

Helena Hettema. (Foto: Facebook)

Die bekroonde sangeres en aktrise Helena Hettema is Saterdag aanlyn te sien in haar jongste kabaretvertoning Divine. Die konsert word aangebied in samewerking met die Pierneefteater.

Sy bring hulde aan musiekblyspele soos Evita, Fiddler on the Roof, Jesus Christ Superstar en Les Miserables.

Sy sing ook onder meer Judy Garland se ikoniese lied “Over the Rainbow” en Marlene Dietrich se “Where have all the Flowers Gone”.

Hettema word begelei deur Elsa Strating.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Sondag 16 Augustus

Helene Bester. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Helene Bester sing Nana Mouskouri word Sondag om 17:00 as een van Lefra se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai. Bester se produksie is verlede jaar onder groot toejuiging tydens die Oppiwater Kunstefees bekendgestel. Die teks en regie word gehanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser – ook Helene se begeleier tydens die Mouskouri-vertonings.

Kaartjies kos R120 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.