Afrikaanse debuutfliek vir Namib-nuweling vorder fluks

Andeline Wieland vertolk die rol van die hoofkarakter Nadia in “Woestynpsalm”. Hier is sy op stel in Solitaire, Namibië. (Foto: Verskaf)

ʼn Intensiewe geldinsamelingsveldtog vir die Afrikaanse rolprent Woestynpsalm het vrugte afgewerp en die rolprent is nou goed op dreef om in Oktober vanjaar uitgereik te word.

Ben van der Walt, die skrywer en regisseur van Woestynpsalm, het Bosman Films gestig nadat hy noodgedwonge na Namibië in Maart verlede jaar moes terugkeer kort voor die VSA se grense weens die Covid-19-pandemie gesluit is.

Covid-19 het egter nie die 22-jarige student van die Kanbar Instituut vir Rolprente en Televisie aan die New York Universiteit se vooraanstaandes Tisch-kunsteskool se passie vir rolprentvervaardiging aan bande gelê nie. Hy het tydens die inperking saam met sy gesin in Windhoek dié vollengte rolprent begin konseptualiseer.

Maroela Media het vroeër berig dat dit Van der Walt se debuutrolprent sal wees. Die vollengte Afrikaanse film is losweg op ʼn ware verhaal gegrond. Dit vertel die storie van Nadia, ʼn jong vrouedominee wat onder toenemende druk van vriende en kollegas geplaas word om haar lewenspad as ʼn geloofsleier te heroorweeg en eerder ʼn meer tradisionele rol in die gemeenskap in te neem.

Woestynpsalm se produksie is aan die einde van Mei afgehandel, nadat die verfilming op 26 April afgeskop het. Die filmspan het onder die kranige leiding van Van der Walt en twee van sy medestudente, kinematograaf Rex Sang (21) van die VSA en vervaardiger Anna Lee (20) uit Nederland, gestaan. Die trio het in 2018 as eerstejaar-filmstudente aan dieselfde kunsteskool in die VSA ontmoet.

Voor die kameras het ʼn plaaslike rolverdeling hulle toneelspeeltalente ten toon gestel. Die hoofkarakter, Nadia Bosman, is deur die Namibiese aktrise en skoonheidskoningin Andeline Wieland (25) vertolk. Saam met haar sal bekende Namibiese gesigte soos Pieter Greeff en Benjamin Smith op die grootskerm pronk. Verfilming het hoofsaaklik in Windhoek, Solitaire, op die Spreetshoogte-pas en langs vele skilderagtige Namibiese paaie plaasgevind.

Die kinematograaf Rex Sang en Ben van der Walt, skrywer en regisseur van “Woestynpsalm”, op stel in Solitaire. (Foto: Verskaf)

“Produksie was nog meer uitputtend as wat ons ons voorgestel het. Ons het ongelooflik baie materiaal gehad om op te neem en skrikwekkend min tyd om dit te doen. Tydens die eerste 17 dae van produksie het ons kameras omtrent sonder ophou gerol,” het Lee vertel.

Op die stel van “Woestynpsalm” in Solitaire, Namibië. (Foto: Verskaf)

Van der Walt brei uit: “Produksie was nie maklik nie, maar dit sou geheel en al onmoontlik gewees het sonder die ondersteuning van vriende en familie, die breë publiek, die Namibiese media en ons ongelooflike fliekvennote: Netwerk Namibië, Gondwana Collection en die Nictus-groep. Julle steun het ons deurgesien – nie net finansieel nie, maar op ook op ʼn kreatiewe front.”

Elizma Theron, uitvoerende beampte van Netwerk Namibië, beaam met dankbaarheid die samewerking van die publiek wat hul geldinsamelingsveldtog ten bate van die film ondersteun het. “Dit is voorwaar ʼn riem onder die hart om te sien hoe mense kan saamstaan vir ʼn saak waarin almal glo, om met trots deel te wees van hierdie unieke Namibiese, Afrikaanse projek.”

“Ek is baie dankbaar vir die vriendelikheid van mense, hetsy vriend of vreemdeling, wat vir ons met die verloop van hierdie projek ondersteuning en hulp gebied het – deur as ekstras te dien, rekwisiete, kos en selfs hul huise as verfilmingsvenues aan te bied. Aanvanklik was ek nie met die Namibiese manier van doen vertroud nie, maar ek het vinnig agtergekom hoe onselfsugtig en aanmoedigend die mense hier is. Vir Woestynpsalm het dit die wêreld se verskil gemaak,” het Lee beaam.

“Ons het ʼn lang paadjie gestap sedert die begin van voorafproduksie. Ten spyte van ons klein span dink ek ons het die meeste van ons doelwitte vir Woestynpsalm bereik. Nodeloos om te sê, ek is ongelooflik trots op almal wat ʼn deel hiervan was en baie opgewonde om met die volgende fase van die proses te begin: naproduksie, waar ons al die rou opgeneemde materiaal sorgvuldig aanmekaar sal stik om ons finale produk voort te bring,” het Sang bygevoeg.

 Presiese datums vir die première van Woestynpsalm sal nog bekendgemaak word. Om op hoogte te bly van die nuutste verwikkelinge, volg die span op Instagram en Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.